PA wys nuwe raadslid aan

Suzane Jansen tydens haar inhuldiging as raadslid. Regs is ds André Boezak wat die inhuldiging behartig het. Foto: Groter Oudtshoorn Munisipaliteit

EEN van die ses partye wat die Oudtshoorn munisipale raad tans as deel van ’n koalisie beheer, die Patriotic Alliance (PA), het ’n nuwe raadslid aangewys om dit op Oudtshoorn te verteenwoordig.

Suzane Jansen is Maandag (14 Februarie) tydens ’n spesiale raadsvergadering as nuwe PA-raadslid ingehuldig nadat André Rondganger bedank het.

Volgens die waarnemende munisipale bestuurder, Walter Hendricks, het hy ’n skrywe van die PA ontvang dat Rondganger met ingang 9 Februarie bedank het en het hy die Onafhanklike Verkiesingskommissie daarvan in kennis gestel waarna ’n vakature verklaar is.

Jansen sal soos haar voorganger in die burgemeesterskomitee van die dorp dien met die belangrike portefeulje Tegniese Dienste as haar verantwoordelikheid. (Deur Liesel le Roux)