Masithembe January (MJ). Foto: Angelique Erasmus
Hofgangers het vandag na hul asems gesnak toe die staatsaanklaer, adv Christhénus van der Vijver, in die saak van die vermoorde soldaat, Preston Titus, ‘n verklaring van een van die verdagtes, Masithembe January, voorgelees het waarin hy vertel van ‘n geleentheid in November 2017 in ‘n kroeg in Port Elizabeth waar Magdaleen (Maggie) Titus hom meegedeel het dat sy iemand gekry het om haar man dood te maak.
Die verklaring is sonder enige teenstand ingehandig as bewysstuk.
Volgens January, ook bekend as MJ, was hy in Oktober 2017 saam met Elvis Galeboe vir ‘n reeks kerkdienste op Oudtshoorn waar hy Magdaleen ontmoet het. Hulle het vriende geword en was weer later saam tydens ‘n kerkdiens in Port Elizabeth.
Hulle is na ‘n kroeg waar Justice Mooi die bestuurder was en hulle’n paar drankies saam geniet het. Hy moes later na buite omdat Titus, Mooi en Sixabiso Klip, Maggie se motorbestuurder, ‘n vergadering wou hou.
Hy wou van haar weet waarom sy nou met ‘n ander man sit en waaroor die vergadering gegaan het. Maggie het gesê dat dit oor politiek gaan en bygevoeg dat sy iemand geky het om haar man te vermoor. Op ‘n vraag waarom sy dit wil doen, het sy geantwoord dat hy (haar man) haar wil doodmaak en sy hom moet doodmaak voordat hy dit met haar doen.
January sê in sy verklaring dat hy van haar wou weet watter voordeel sy daaruit sou kry waarop sy geantwoord het: “Dat ek my lewe terug kan kry.”
Maggie het hom ‘n paar dae later gevra om geld in ‘n vermeende moordenaar se rekening oor te plaas en bygevoeg dat die manne met gewere kom.
Hy is ‘n paar dae later na Beaufort-Wes waar Maggie hom gebel het en sê dat sy hom lief het. Sy was kwaad omdat hy nie die geld wou oorplaas nie en het gevra of sy hom kan vertrou.
January sê voorts in sy verklaring dat hy van Elvis Galeboe verneem het dat Preston Titus vermoor is. Hy was toe terug op Oudtshoorn en by Stuurman se huis. Hy vertel ook hoedat hy en Stuurman saam met Klip na die Titus-woning gegaan en daar gebid het.
Titus het Klip toe ook gevra om sy selfoonoproepe uit te vee. Op ‘n vraag waar sy ten tye van die moord was, het Maggie hom meegedeel dat sy geslaap het en haar selfoon ook gesteel is.
Volgens die verklaring het Mooi hom na die moord gebel en gevra “om stil te bly”. Hy is uit vrees terug na Port Elizabeth.
Maggie het hom gebel en gewaarsku om weg te bly van die polisie want ander sal “haar mense” met hom afreken.
In ‘n verhoor binne die verhoor wat hierna begin het, ontken Mooi volgens sy regsverteenwoordiger, adv Stoffel Prinsloo, dat die verklaring wat hy na sy inhegtenisneming afgelê het, vrywilliglik en sonder dwang was.
Hy ontken ook dat die ondersoekbeampte, ao Martin le Roux sy regte aan hom voorgehou het.
A/o William Bennett Swarts het getuig dat hy Mooi op 13 Desember 2017 twee keer na die Oudtshoorn Hospitaal geneem het vir ‘n ondersoek ten opsigte van enige beserings. Mooi het hom daarna bedank vir goeie behandeling wat hy ontvang het.
Sers Vuyokazi Ludonga, wat saam met kapt Deon Bouwer en ao Le Roux gegaan het om as tolk op te tree tydens die inhegtenisneming van Mooi op 12 Desember 2017 in ‘n MacDonalds, het Le Roux Mooi se regte aan hom voorgehou. Volgens haar vertel Mooi leuens as hy dit ontken.
Mooi is die enigste van die vier verdagtes wat in aanhouding bly. Regter Nolwazi Boqwana het die twee vroue en January se borg en borgvoorwaardes weer verleng tot Dinsdag wanneer hofverrigtinge om 10:00 sal begin. (Berig deur Garnett Wicomb)