Mooi nie gedreig, aangerand of dinge belowe om bekentenis af te lê, hoor hof

Lt kol Eric Jullies het getuig oor die bekentenis van Justice Mooi wat hy afgeneem het. Foto: Garnett Wicomb

Deur Garnett Wicomb
JUSTICE MOOI is nooit gedreig, aangerand of dinge belowe indien hy  ‘n bekentenis sou maak nie.
So het verskeie polisiebeamptes vandag in die verhoor binne ‘n verhoor in die saak van die vermoorde soldaat, Preston Titus, in die rondgaande Hooggeregshof op Oudtshoorn getuig.

Die binneverhoor is vanmiddag (Dinsdag) met die kruisondervraging van die ondersoekbeampte. Ao Martin le Roux, tot môre (Woensdag) verdaag.

Sers Vuyokazi Ludonga wat kapt Deon Bouwer en Le Roux op 11 Desember 2017 na Port Eizabeth vergesel het om Justice Mooi te arresteer, het getuig dat Mooi ‘n leuen vertel wanneer hy sê dat sy
met hom oor Magdaleen Titus en haar gewese skoonsuster, Natashia Stuurman, gepraat het. Sy weet ook nie daarvan dat Bouwer en Le Roux hom gedreig of gedwing het om ‘n bekentenis te maak nie.

Ludonga wat getroud was met die broer van Stuurman,  was op ‘n keer baie emosioneel en omgekrap oor vrae wat Mooi se regsverteenwoordiger, adv Stopffel Prinsloo, oor haar privaatlewe gevra het.

“My gebroke huwelikslewe het niks met die saak te doen nie,” het Ludonga met trane in haar oë gese.
Regter Nolwazi Boqwana wou die saak daarna vir ‘n wyle verdaag, maar Ludonga het  voortgegaan met haar getuienis. Volgens haar was Mooi se enigste beswaar dat hy nie met Bouwer wil praat nie. Hy het ook in ‘n stadium gevra vir ‘n foto van hom en Le Roux terwyl hulle aan mekaar geboei was, as aandenking vir wanneer hy “eendag uit die tronk kom”.

Prinsloo wou van Ludonga weet of sy, volgens Mooi, onderweg vanaf Port Elizabeth na Oudtshoorn, oor Stuurman en Magdaleen Titus gepraat het. Dit is nie waar nie het sy gesê.

Lt kol Eric James Jullies van die Thembalethu Polisiekantoor op George, wat Mooi se bekentenis op 13 Desember 2017 in ‘n kantoor op Oudtshoorn afgeneem het, het breedvoerig getuig oor die prosedure wat hy gevolg het voordat hy die bekentenis afgeneem het.

Hy het aan Mooi verduidelik dat hy niks met die saak te doen het nie en nie deel is van die ondersoekspan nie. Hy is deur Bouwer geskakel om die bekentenis te kom afneem.

Jullies het net soos Ludonga aan die hof gese dat hy nie enige beloftes aan Mooi gemaak het nie en hom ook nie gedwing het om ‘n verklaring te maak nie. Volgens hom was Mooi ongelukkig met ‘n derde persoon in die vertrek, Ao Nyatella, die polisiebeampte wat ‘n video-opname moes
maak. Nadat hy Mooi vir ‘n rukkie uit die kantoor laat gaan en hy buite, vermoedelik met die ondersoekbeampte, gesels het, het hy met sy terugkeer gesê dat hulle kan voortgaan.

“Die verdagte was baie kalm en nie voorgekom asof hy ‘n bekommerde persoon is nie,” het Jullies getuig. Oor waarom daar nie ‘n tolk teenwoordig was nie, het Jullies getuig dat Mooi dit so verkies het.

‘n Derde polisiebeampte, sers Sheronẻ Flemmer, van die Oudtshoorn Speurdiens, het getuig dat Mooi , sonder dat sy hom gevra het, op 13 Desember 2017 aan haar gesê het dat hy “alles oor
die voorval wil vertel”. Sy het dit toe so aan kapt Bouwer oorgedra.

Sy het getuig dat sy “uit nuuskierigheid” na Mooi se sel is om te sien wie die man is wat in verband met die moord op die soldaat aangehou word.

Volgens Prinsloo het Mooi hom meegedeel dat sy, in teenstelling met die optrede van Bouwer en Le Roux, baie meer vriendelik was en hy haar vertrou het.

Die ondersoekbeampte, ao Martin le Roux, het laatmiddag begin getuig en die hof vertel van die inhegtenisneming van Mooi op 12 Desember 2017 in ‘n kitskos-eetplek in Port Elizabeth. Hy het Mooi eers sy regte voorgehou voordat hy hom geboei en na polisieselle in Port Elizabeth geneem het waar hy oornag het.

Regter Nolwazi Boqwana het die saak tot Woensdag verdaag wanneer dit na betroubaar verneem word tot Meimaand uitgestel sal word.

Adv Stoffel Prinsloo verskyn vir January, adv Mustaque Holland vir Magdaleen Titus, Chris Morgan vir Natashia Stuurman en Louise Luterek vir January.

Hofverrigtinge begin om 10:00.