Preston Titus-moordsaak: Mooi beweer hy is deur polisie aangerand en sy verklaring nie vrywillig afgelê

Justice Mooi en Magdaleen Titus in die be­skul­digdebank.  Foto: Angelique Erasmus

Deur Garnett Wicomb
Die verhoor van die vier verdagtes in die Preston Titus-moordsaak in die rondgaande Hooggeregshof op Oudtshoorn het ‘n nuwe wending geneem toe die regsverteenwoordiger van een van die verdagtes Vrydag vir ‘n verhoor binne ‘n verhoor gevra het.

Volgens adv Stoffel Prinsloo (vir Justice Mooi) beweer sy kliënt dat sy verklaring na sy inhegtenisneming nie vrywillig afgelê is nie. Hy is glo deur die polisie gedreig en ook aangerand.

Die verhoor binne ‘n verhoor is aangevra om te bepaal of hierdie verklaring as bewysstuk aanvaar kan word of nie. Mooi en die polisie sal hieroor getuig, het Prinsloo gesê.

Mooi is die enigste van die vier verdagtes wat in aanhouding is.

Prinsloo het die hof versoek dat Maandag se hofverrigtinge eers om elfuur moet begin sodat hy eers met Mooi kan konsulteer.

Dié groep ondersteuners van Preston Titus se familie bid elke oggend voor die aanvang van die hofsaak buite die hof. Foto: Garnett Wicomb

Selfoonrekord-analis na week klaar

Die saak is Vrydagmiddag na die kruisondervraging van ao Anna Marie van Niekerk, die selfoonrekord-analis van die polisie, na ‘n week se getuienis, verdaag.

Van Niekerk het Vrydag op ‘n vraag van die staatsaanklaer, adv Christhénus van der Vijver, getuig dat dit doelloos sal wees om oor vorige selfoonrekords van Justice Mooi en Magdaleen Titus ten opsigte van hul verbintenis te getuig omdat hulle mekaar vir die eerste keer op 16 November 2017
ontmoet het. Al die ander beskuldigdes was aan mekaar bekend.

Mooi sal volgens Prinsloo getuig dat hy die aand van die moord by die huis van Natashia Stuurman was waar hy vir Sixabiso Klip (Magdaleen se motorbestuurder) gewag het om hom na Port Elizabeth terug te neem.

Chris Morgan, regsverteenwoordiger van Stuurman, het dit aan Van Niekerk gestel dat Klip se getuienis dat hy Stuurman die oggend van 1 Desember 2017, omstreeks 01:00 geskakel het om haar huis se hekke oop te maak nie korrek is nie. Volgens hom was dit omstreeks 04:00 en dat sy selfoonrekord dit staaf. Van Niekerk het dit bevestig.

Morgan het dit ook aan Van Niekerk gestel dat Stuurman se selfoonrekord aandui dat daar vanaf 16:36 tot omstreeks 19:00 op 1 Desember 2017 geen oproepe vanaf haar selfoon gemaak is nie omdat sy op pad was na Beaufort-Wes en daar gebly het tot die volgende middag. Morgan het dit ook aan Van Niekerk gestel dat Stuurman nooit in November 2017 in Port Elizabeth was nie. Die naaste, volgens haar selfoonrekord, is Hankey, waar sy op 18 November 2017 was.

Van Niekerk het hierna getuig dat terwyl Stuurman in Beaufort-Wes was, daar baie kommunikasie tussen haar en Klip was. Morgan het hierop geantwoord dat Klip en Stuurman mekaar baie goed ken en sy hom gevra het om vir die naweek na haar huis te kyk vanwee al die misdaad. Die oproep wat sy na middernag, omstreeks 00:12 op 2 Desember, na Klip gemaak het, was omdat sy wou gaan slaap en uitvind of alles nog reg is by haar huis.

Klip het haar toe meegedeel dat hy nie met haar kan praat nie omdat hy “saam met mense was”, en sy selfoon afgesit. En volgens sy selfoonrekord was hy in daardie stadium by ‘n vulstasie op Voorbaai, Mosselbaai.

Volgens Morgan is daar geen getuienis oor waaroor al die oproepe en sms-boodskappe gegaan het nie en dat dit ook interessant sal wees om ander maande se selfoonrekords te sien.

Titus se regsverteenwoordiger, adv Mustaque Holland, het dit aan Van Niekerk gestel dat daar geen aanduiding is dat Klip die aand van die beweerde moord by die huis van Preston Titus was nie. Daar is ook geen oproepe gemaak tussen hulle twee nie. Van Niekerk het egter geantwoord dat Klip wel twee sms-boodskappe na Titus se selfoon gestuur het.

January se regsverteenwoordiger, Louise Luterek, het dit aan Van Niekerk gestel dat January ook nie op 30 November en 1 Desember 2017 op Oudtshoorn was nie, maar wel saam met Stuurman op Beaufort-Wes.

Die staatsaanklaer (Van der Vijver) wou van Van Niekerk weet of die getuienis van Klip met sy selfoonrekord strook dat Mooi op 16 November 2017 in Port Elizabeth aan hom en Titus voorgestel is. Sy het dit bevestig.

Van der Vijver het afgesluit met die stelling dat almal nou daarvan bewus is dat daar op die dag van die moord baie kommunikasie tussen Mooi en Magdaleen Titus was; die meeste daarvan met Mooi in die omgewing van die weermagbasis.

Regter Nolwazi Boqwana het Titus, Stuurman en January se borg en borgvoorwaardes verleng en gelas dat Mooi in aanhouding bly.

Toename in kommunikasie op 30 November en 1 Desember

Daar was die aand van 30 November 2017 en in die vroeë oggendure van 1 Desember
2017 geweldig baie sms-boodskappe gestuur tussen die selfone van Magdaleen
Titus en Klip,  terwyl daar op 1 Desember 2017 ook meer as 20 oproepe vanaf
Titus se selfoon na dié van Justice Mooi gemaak is.

So het Van Niekerk Donderdag  geantwoord op vrae van die staatsaanklaer (Van der
Vijver) ten opsigte van Klip se getuienis. Klip is ‘n sleutel-staatsgetuie na ‘n pleitooreenkoms met die staat en reeds tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis.

Volgens Van Niekerk was die eerste kommunikasie op 30 November tussen Klip en Magdaleen Titus omstreeks 21:53 en talle vanaf 01:50 op 1 Desember 2017.

Titus is op dié aand wreed in sy slaapkamer in die militêre basis vermoor.

Van Niekerk het die hof breedvoerig ingelig oor toets-selfoonoproepe wat sy met haar twee selfone gedoen het – die een Vodacom en die ander MTN omdat dit die selfoondiensverskaffers is van die vier verdagtes (Magdaleen, Mooi, Stuurman en January), asook Klip en ene Elvis Galeboe, wat nie ‘n verdagte is nie.

Volgens Van Niekerk, wat die afgelope elf jaar met groot sukses in talle hoëprofiel hofsake
getuig het, is die toetsoproepe gemaak om te bewys watter selfoon-basistasies geaktiveer word wanneer sy ‘n oproep maak en dit dan te vergelyk met die verdagtes en getuies se selfoonrekords.

Volgens haar was daar geen teenstrydighede nie. Sy het getuig dat sy eers haar Vodacom-selfoon en daarna ‘n MTN-selfoon gebruik het en oproepe gemaak het vanaf en vanuit die woning van die Titus-egpaar in die weermagbasis, vanaf die Oudtshoorn Begraafplaas, die woning van  Stuurman
in Bongolethu en die woning van Klip in Jacobsonstraat.

Sy het ook oproepe gemaak vanaf die Klein Karoo Engen-vulstasie in Voortrekkerweg waar Klip die aand van 29 November brandstof ingegooi het nadat hy Mooi en ‘n ongeidentifiseerde persoon by die Oudtshoorn Begraafplaas opgelaai het en hulle na die weermagbasis geneem het om die Titus woning vir hulle te gaan uitwys.