Pres Ramaphosa, verwyder blokkies met rasseklassifikasie, vra PARC uit Oudtshoorn

Glen Snyman, stigter van PARC (People Agaist Racial Classification), stel PARC se standpunt Saterdag oor sy klank-stelsel, terwyl ander PARC-ondersteuners luister. Foto: Stefan Skapie Goosen

’N BRIEF uit Oudtshoorn waarin pres Cyril Ramaphosa versoek word om die rasseklasssifikasie-kriteria op regeringsdokumente en aansoekvorms te verwyder, is die afgelope dae wyd gedek deur nasionale TV-kanale en nuusdienste.

Die brief is Saterdag om 12:00 op die oop terrein langs die CP Nel Museum op Oudtshoorn voorgelees deur die stigter van PARC (People Against Race Classisfication), Glen Snyman.

PARC-ondersteuners het Saterdag aan ’n vreedsame betoging op Oudtshoorn deelgeneem, waarna Snyman, ’n onderwyser van Oudtshoorn, ’n optog deur die middedorp gelei het.

PARC is gekant teen die klassifisering van mense volgens velkleur en ras en die diskriminering wat gepaard gaan met werkaansoeke by regeringsinstellings waar jy versoek word om jou ras op jou aansoekvorm te meld.

“Ons is nie bruin, swart, Indiese of wit mense nie; ons is almal Suid-Afrikaners,” sê Snyman.

In die brief word die minister van justisie versoek om rasseklassifikasie as rassisme te interpreteer en dit in alle instellings te verwyder; die minister van landbou word versoek om die wet op swart ekonomiese bemagtiging te verwyder; die minister van sport word versoek om rassekriteria en die kwotastelsel te verwyder sodat spelers slegs op grond van meriete gekies word; en Statistiek Suid-Afrika word versoek om rasseklassifikasie op die 2021-sensusvorms te verwyder. (Deur Liesel le Roux)