’N ASSISTENT-SUPERINTENDENT van die Oudtshoorn Munisipaliteit is verlede Woensdag (28 April) na net meer as ’n uur in die hofselle op borgtog vrygelaat toe die hof sy aansoek om verlof tot appèl toegestaan het. Frikkie van Staden (55) is vroeër die dag skuldig bevind op bedrogklagtes van meer as R1,9 miljoen en tot vier jaar effektiewe gevangenisstraf gevonnis.
Van Staden se regsverteenwoordiger, Gideon Badenhorst, het by die aansoek aangevoer dat ’n ander hof moontlik tot ’n ander bevinding kan kom. Die staatsaanklaer, Corné Pretorius, het die aansoek teengestaan maar streeklanddros Neels Nortje, het ten gunste van die beskuldigde beslis en borgtog van R3 000 toegestaan.
Die landdros het met die vonnisoplegging van Van Staden gesê korrupsie en bedrog is ernstige misdade wat die land se ekonomie lamlê en kom dikwels in munisipaliteite voor.
Hy het ook daarop gewys dat Van Staden in ’n vertrouensposisie was en nie berou getoon het nie.
“In dié saak was daar ’n mate van beplanning en dit was nie ’n eenmalige voorval nie.”
Van Staden, wat verantwoordelik was vir die instandhouding van paaie, is daaraan skuldig bevind dat hy tussen Maart 2011 en Julie 2014 die Oudtshoorn Munisipaliteit onregmatig beïnvloed het om werk aan ’n beslote korporasie, Kamvelihe General Trading, wat in die naam van sy skoonsuster, Frances Booysen, geregistreer was, te verskaf.
Altesaam 109 fakture ten bedrae van byna R2 miljoen is aan Kamvelihe betaal. Die geld is in Booysen se bankrekening inbetaal wat dit na elke inbetaling onttrek en aan Van Staden oorhandig het. Daarvoor het sy dan gereeld tussen R500 en R1 000 van Van Staden ontvang vir die gebruik van haar rekening en besigheidsnaam.
Die klagte van bedrog handel oor die feit dat Van Staden die munisipaliteit beweeg het om die dienste van die korporasie te gebruik terwyl hy geweet het dat hy self die dienste verskaf en betaling tot sy eie voordeel ontvang het.
Die landdros het Van Staden se weergawe dat hy nie aanvanklik daarvan bewus was dat die korporasie aan sy skoonsuster behoort het nie, verwerp.
Van Staden is sewe jaar tronkstraf opgelê op die eerste klagte van korrupsie waarvan drie jaar opgeskort is.
Hy is tot twee jaar gevangenisstraf gevonnis vir die oortreding van die wet op die voorkoming van georganiseerde misdaad wat samelopend met die eerste vonnis uitgedien kan word en vyf jaar vir bedrog wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is.
Hy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
Volgens Zinzi Hani, woordvoerder van die Valke, het die oortredings aan die lig gekom tydens ’n ondersoek tussen 2010 en 2014 deur die Valke se Ernstige Kommersiële Misdaadspan in George. (Deur Garnett Wicomb)
Munisipale amptenaar mag appelleer teen vonnis
