DIE stem van die kerk in Kannaland was te lank stil te midde van korrupsie, wanadministrasie en verdelende politiekery wat oënskynlik in die gemeenskap en munisipaliteit bestaan, sê ’n groep kerkleiers van Kannaland in ’n verklaring wat Dinsdag (4 Mei 2021) uitgereik is.
In die verklaring, wat deur 13 kerkleiers onderteken is, bely die kerkleiers dat hulle hul profetiese roeping versaak het ten opsigte van die politieke bestuur van die gemeenskap.
“Ons as kerkleiers van Kannaland aanvaar dat die kerk ’n profetiese taak het om God se Woord te verkondig, vir die owerhede te bid, maar ook om die owerheid en amptenary verantwoordbaar te hou vir hul aksies,” lui die verklaring.
Hier volg die volledige verklaring:
Ons, as kerkleiers in Kannaland,
• Verklaar dat die aarde en ook Kannaland aan God behoort en dat Sy Koningkryk elke terrein van ons lewens insluit (Psalm 24:1).
• Erken dat God die owerheid as Sy diensknegte aanstel met die opdrag om reg en geregtigheid te laat geskied, barmhartigheid aan die armes en weerloses te bewys, eenheid en versoening na te jaag, asook om met intigriteit en tot die beswil van alle inwoners te regeer. (Psalm 82:3-4, Eksodus 23:6, Eksodus 22:21, Deut 27:19, Eksodus 22:21, Romeine 13 en 1 Petrus 2).
• Aanvaar dat die kerk ’n profetiese taak het om God se woord te verkondig, vir die owerhede te bid, maar om ook die owerheid en amptenary verantwoordbaar te hou vir hul aksies. (1 Timoteus 2).
• Bely voor God en voor die inwoners van Kannaland dat ons te lank hierdie profetiese roeping versaak het tov die polititieke bestuur van ons gemeenskappe. Die stem van die kerk was inderdaad te lank stil te midde van korrupsie, wanadministrasie en verdelende politiekery wat oënskynlik in ons gemeenskap en in ons munisipaliteit bestaan.
• Onderneem om voort te gaan om vir ’n vreedsame en regverdige verkiesing te bid, asook vir die nuwe verkose raad en die amptenary.
• Beloof hiermee om op ’n opbouende, maar ook kritiese wyse betrokke te wees by die werk van die plaaslike owerheid.
• Verklaar ons bereid om die munisipale raad behulpsaam te wees met etiese onderskeidingsvermoë ten einde hul roeping in lyn met God se Woord uit te voer.
Onderteken deur die volgende kerkleiers: Arrie Klink, Bertus Jordaan, Daniël Flink, Dawid de Villiers, Hendrik Barnard, Jacques Smith, Francois Naudé, Jimmy Frans, Julian Fortuin, Lionel Rose,
Nathan Overmeyer, Phillip Venter
• Ander kerkleiers wat met die verklaring saamstem, is welkom om hul naam by te voeg.
Rig navrae aan Francois by 084 860 8000. (Deur Liesel le Roux)