Polisie lê beslag op baie dwelms, drank

Van die dwelms wat die afgelope week in die Klein Karoo deur die polisie gekonfiskeer was. Foto: verskaf.

ONWETTIGE drank- en dwelmsmouse in die Klein Karoo moet op hul hoede wees; die Eden Kluster Polisie in die Suid-Kaap het sedert Vrydag 30 April talle inhegtenisnames in verband met drank- en dwelmhandel gemaak.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het ’n 28-jarige Nigeriese man Maandag (3 Mei) in die Oudtshoorn Landdroshof verskyn nadat hy Sondag (2 Mei) in hegtenis geneem is vir die besit van dwelms.

Visser sê die polisie het die Sondag om 20:20 inligting vanaf die gemeenskap ontvang van moontlike dwelms by ’n woning in Bongolethu.

“Lede van die Misdaadvoorkomings-eenheid het die woning in 21ste Laan deursoek en 1 068 mandrax-tablette gekry met ’n beraamde straatwaarde van R64 000.”

Volgens Visser het kol JJ Stripp, waarnemende stasiebevelvoerder, die lede bedank vir hulle werk en het Stripp beklemtoon dat die besit en handel in dwelms steeds ’n prioriteit is, en dat dit nie geduld sal word nie.

Hierdie inhegtenisname op Oudts­hoorn volg op optrede oor die naweek deur die polisie in die Suid-Kaap om onwettige dwelms binne gemeenskappe uit te roei.

Volgens kapt Malcolm Pojie, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, het lede verbonde aan die Eden-en-Da Ga­maskop-kluster ook ’n bedrywige naweek gehad het.

Op Vrydag 30 April omstreeks 21:30 is ’n 52-jarige man volgens Pojie langs die N2-snelweg buite Mosselbaai in hegtenis geneem, en op Saterdag 1 Mei is ’n 19-jarige man in Dysselsdorp in hegtenis geneem vir “klein hoeveelhede onwettige middels”.

Hy sê ’n 28-jarige verdagte is later dieselfde dag aangekla vir die verkoop van drank sonder ’n lisensie.

Daar is in Calitzdorp ook toegeslaan op drank en dwelmshandelaars.

Volgens sers Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is die Eden Kluster Polisie in Calitzdorp ontplooi om toe te slaan op drank- en dwelmhandelaars.

Volgens Spies is dwelms met ’n straatwaarde van omtrent R10 000 en 150 liter se drank gekonfiskeer.

Sondag, omstreeks 01:20, het lede verbonde aan die Attaqua Honde-eenheid volgens Spies 95 mandrax-tablette en 45 sakkies tik by ’n woning in 9de Laan, Bergsig gevind toe hulle op inligting van die gemeenskap gereageer het.
Vier verdagtes tussen die ouderdom van 26 en 40 is vir die handel in dwelms in hegtenis geneem.

Spies sê lede van die Calitzdorp Polisie Saterdag omstreeks 21:30 ook toegeslaan op ’n dwelmafsetpunt in Royal Heights waar klein hoeveelhede mandrax en tik gevind is.

’n 19-jarige verdagte is hier in hegtenis geneem vir die besit van dwelms.

Dieselfde lede het volgens Spies Vrydag (30 April) toegeslaan op ’n onwettige drankhandelaar in Voortrekkerweg, waar 150 liter drank gekonfiskeer is.

Hy sê dat ’n 28-jarige verdagte in hegtenis geneem is vir die verkope van drank sonder ’n lisensie.

Volgens Spies sal al hierdie verdagtes in die hof verskyn sodra hulle amptelik aangekla word. (Deur Stefan Skapie Goosen)