Emmerentia Witbooi (40), of Pop, soos almal haar genoem het, is Woensdag, 22 November oorlede nadat sy deur ’n plaasimplement wat uiesaad verwerk op ’n plaas in Schoemanshoek, buite Oudtshoorn, ingetrek was.
Witbooi het saam met vyf ander werkers in die stoor gewerk toe die fratsongeluk gebeur het. Die voorval het ongeveer 08:00 die oggend plaasgevind.
Volgens Rochelle Isaks moes sy en Witbooi aan die voorkant van die implement staan en die sakke met onverwerkte uiesaad daarin gooi.
“Ons kan nie verstaan waarom sy aan die verkeerde kant van die masjien verbygeloop het nie. Ons het almal geweet ons moet nie daar verbygaan nie, dis die gevaarlike kant”, het sy aan Die Hoorn vertel.
Witbooi se klere is deur die dryfas ingetrek. Sy het in die proses haar arm verloor en haar gesig het ook erge beserings opgedoen. Nooddienste is ontbied en sy is met ’n ambulans deurgejaag na die hospitaal. Sy het later die dag, in die Oudtshoorn Hospitaal aan haar beserings beswyk.
Haar ma, Sarah Witbooi, het aan Die Hoorn vertel dat hulle baie geskok is.
“My kind het op ’n wrede manier gesterf”, het sy hartseer gesê.
Witbooi laat twee kinders agter. Haar dogter, Brevene (20) en haar seun, Ettienne, is slegs agt jaar oud.
Die eienaar van die plaas het ook met Die Hoorn gesels en gesê dat dit net so groot skok vir hom was en dat hy sy innige meegevoel met die familie gaan betoon het.
“Hierdie aaklige ongeluk was baie sleg vir almal betrokke. Daar word met Liechen Lategan gereël om vir al die werkers wat dit moes beleef, beranding te gee”.
Die Hoorn was Woensdag net na die voorval op die toneel toe die slagoffer reeds in die ambulans was.
Dit was duidelik met Die Hoorn se besoek aan haar familie en medewerkers Donderdag, dat hierdie ervaring vir almal nie net traumaties was nie, maar dat hul nog geskok is oor haar dood.
Die Hoorn het ’n navraag aan die Polisie gestuur, en wag nog vir amptelike terugvoer, en sal lesers op hoogte hou van enige verwikkelinge in die saak.
Planne vir haar begrafnis is nog nie bekend gemaak nie.