Fokus op waterveiligheid na verdrinking

Nooddienste op die tonneel nadat Jan Simmers (56) Sondag in ’n dam op die Vergelegenpad verdrink het. Foto: Angelique Erasmus Foto onder: Jan Simmers (links agter) saam met sy kollega’s van AfriCamps,buite Oudtshoorn waar hy gewerk het. Foto verskaf

Die tragiese verdrinking van Jan Simmers (56), die naweek in ’n plaasdam op die Vergelegenpad, naby Buffelsdrift, buite Oudtshoorn, het die belangrikheid van waterveiligheid weereens in die kollig geplaas.

Sers Chris Spies, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie het in ’n verklaring gesê dat daar tans ’n geregtelike doodsondersoekdossier geopen is na die dood van Jan Simmers (56).

“Beskikbare inligting dui daarop dat die man in die water was toe hy probleme ondervind het. Sy seuns het gaan help, maar hy het onder die water verdwyn.”

Die verklaring lui verder dat polisieduikers na die toneel ontbied is en die liggaam van die oorledene is omstreeks 19:19 uit die water gehaal. Hy is op die toneel dood verklaar.

“’n Nadoodse ondersoek sal die week op die oorledende gedoen word om die oorsaak van sy dood te bepaal.” sluit Spies af.

Volgens Esti-Marie de Jager, van AfriCamps waar Simmers ’n werknemer was, was Simmers ’n baie nederige persoon en sy hande het vir niks verkeerd gestaan nie. “Ou Boetie Jan of Janneman soos ons hom maar genoem het, was betrokke van dag een af met die bou van AfriCamps,” het
De Jager aan Die Hoorn gesê.

Hy kon sy kollega’s vir ure vermaak deur sy sêgoed en kon dan so lekker saam met hulle lag.

“Hy los ‘n groot leemte by ons as eienaars en sy medewerkers. Rus sag Boetie Jan, ons gaan jou voorwaar baie mis op die plaas.”

Die Hoorn het ook met Dawid Simmers, die oorledende se broer gesels. Sy begrafnis vind Sondag 12:00 plaas in die kerkgebou net verby Buffelsdrift Game Lodge, op die grotte pad.
Simmers laat sy vrou Maria, 4 seuns, en twee kleinkinders agter.

Waterveiligheid:
Oudtshoorn beskik oor 4 publieke swembaddens, waar lewensredders aan diens is om die veiligheid van die publiek te verseker, maar dit is onmoontlik om vir elke plaasdam, rivier of selfs die kanaalstelsel wat 135 km lank is, ’n wag of selfs lewensredders aan te stel.

Die Hoorn het met Mornay Thysse, Oudtshoorn se bekende brandweerman, slangvanger en reddingswerker gesels oor probleme sowel as wenke wanneer dit by waterveiligheid kom.

Volgens Thysse is daar ongeveer vyf verdrinkings per seisoen, wanneer die weer warmer begin raak. Hierdie voorvalle vind veral plaas oor naweke, vakansiedae en vakansietye.

Die gevaarlikste plekke om te swem in en om Oudtshoorn is plaasdamme en die kanaalstelsel.

Veral damme, omdat daar nie tot op die bodem gesien kan word nie, en persone nie weet wat onder die water is nie, soos ou bome, takke of selfs huishoudelike items wat daar ingegooi is. In riviere groei riete onder die water en kan swemmers daarin verstrengel raak, en sukkel om los te kom.

Tydens ’n voorval sowat drie jaar gelede het ’n kind in die Kammanassierivier in die Rooiheuwel-omgewing verdrink toe hy onder ’n mat in die rivier beland het. Dit het polisieduikers ’n geruime tyd geneem om die kind se liggaam te vind.

Meeste voorvalle waar volwassenes verdrink speel die inname van alkohol beslis ’n rol, maar daar is ook gevalle waar persone nie onder die invloed van drank is nie, en ook in die moeilikheid beland.

“Persone wat in damme of riviere gaan swem weet nie hoe diep die water is nie, wat beteken dat die water kouer is hoe dieper jy ingaan. Die kouer water kan dan veroorsaak dat daardie persoon krampe in sy bene kry en dan sukkel om te swem en by die vlakker water of die oewer uitkom,” verduidelik Thysse.

Wat die kanale so gevaarlik maak is die feit dat die vloei in die breër gedeeltes baie stadig lyk, maar vinniger raak waar dit dunner raak en die vloei dan aansienlik versnel. Daar is dan strome onder die oppervlak wat nie met die blote oog gesien word nie en dan beland swemmers in die moeilikheid. Daar is ook verskeie drukpype naby paaie waar die kanaal onderdeur die pad gaan, met skerp hellings en versnelde vloei wat uiters gevaarlik is.

Die walle van die kanale se kante is ook skerp en hoog en kan uitklim bemoeilik.

In meeste van die gevalle waar kinders verdrink is daar ’n gebrek aan volwasse toesig. Kinders gaan swem saam met hul vriende, en wanneer hul in die moeilikheid beland moet daar eers na ’n volwassene gesoek word om te help en nooddienste te ontbied. Soms is dit dan te laat en het die kind reeds verdrink.

So, hoe gemaak wanneer jy wel op iemand afkom wat in die moeilikheid is in die water, of besig is om te verdrink.

Thysse sê dat hy ’n reddingspoging deur ’n omstander slegs sou aanraai mits daardie persoon ’n sterk swemmer is en kennis dra van hoe om daardie persoon te hanteer wat in nood verkeer.

“Anders kry onmiddellik hulp, maar moet nie probeer inswem nie want so ’n persoon sal jou onder die water druk en jy kan dan ook verdrink,”

Skakel dadelik die nooddienste by 044 203 3000 of die beheerkamer by 044 203 7800. Stoor die nommers en alle noodnommers op jou telefoon sodat dit dadelik byderhand is.

Hy verduidelik verder dat swemmers nooit sonder toesig moet gaan swem nie en sorg dat daar altyd ’n volwassene by is in die geval van kinders.

“Neem ’n tou of binneband wat opgeblaas is saam sou iemand in die moeilikheid beland en moenie te diep in die water gaan nie,” sê hy.

Moet ook nooit gaan swem nadat jy geëet het nie, wag ten minste 2 ure voor jy die water aandurf.

Thysse se voorstel is dat damme, riviere en kanale ten alle koste en sover moontlik vermy moet word. “Doen eerder die moeite en neem jou gesin na ’n swembad waar daar lewensredders is, en maak ’n lekker uitstappie van die dag. Jou geliefdes is veilig, kan lafenis vind teen die hitte en hulself geniet in die water,”

Na Simmers se voorval was daar ’n kommentaar van een van ons lesers oor waarom dit so lank neem voordat die polisieduikers op die toneel gearriveer het. Die rede hiervoor is omdat hier nie op Oudtshoorn ’n duikeenheid is nie, en moet die duikers vanuit Mosselbaai, Knysna of soms Plettenbergbaai ontbied word.

Om ’n liggaam in water te soek is ’n gevaarlike en gespesialiseerde taak. ’n Verdrinking word ook as ’n misdaadtoneel geklassifiseer en Polisie neem die toneel oor en ondersoek dan die voorval. Reddingswerkers tree dan slegs in ’n ondersteuningsrol op.

Wanneer ’n persoon verdrink is dit prosedure om ’n nadoodse ondersoek op die liggaam te doen sodat daar vasgestel kan word wat die oorsaak van die verdrinking kon wees. “Die persoon kon ’n hartaanval kry tydens die swemsessie wat dan die oorsaak van sy dood was.”

Om te verdrink kan vergelyk word met versmoring. Die persoon sluk ’n oormaat water in, en om die longe te beskerm sal die lugklep toeslaan en die persoon nie suurstof na sy longe toe kry nie en so versmoor. (Deur Angelique Erasmus)