Geriefsinkopiesentrum teken van ekonomiese groei

Foto’s: 1. Driedimensionele voorstelling van Klein Karoo Agri se “jou eie” geriefsinkopiesentrum. 2. Die vooraansig van die sentrum. 3. ’n Lugfoto soos dit tans lyk. Sivielewerk aan die ont-wikkeling het reeds op 15 November begin, en kan die masjien op die foto gesien word. Lugfoto met vergunning van Knipoog Fotografia. Voorstellings verskaf.

“Economy is the method by which we prepare today to afford the improvements of tomorrow,” het Calvin Coolidge gesê, die 30ste President van Amerika vanaf 1923 tot 1929. Hoe waar is sy wyse woorde en steeds van belang ’n 100 jaar later nie.

Die gesondheid van enige land, stad of dorp se ekonomie word onder andere gemeet aan die vooruitgang van daardie dorp deur nuwe projekte, besighede, die bou van nuwe uitbreidings asook die skep van nuwe werksgeleenthede. Die groei is ook duidelik as gevolg van ’n influks van nuwe inwoners wat vanuit ander plekke trek.

Die bou van die nuwe Klein Karoo Agri – ‘jou eie!’ geriefsinkopiesentrum in Parkweg, is een goeie voorbeeld van die ekonomiese vooruitgang wat in Oudtshoorn te sien is.

’n Groot maatskappy soos die Klein Karoo Agri, sal nie sommer ’n duur projek aanpak as daar nie ’n behoefte daarvoor bestaan nie.

Anker winkels wat deel van hierdie geriefsentrum gaan wees is Clicks, Spar, Tops, Absa, KFC, en Vida E Café. Die Clicks in Hoogstraat bly net waar hy is en so ook die twee Spar winkels in Kerkstaat en Voortrekkerweg.

Die ABSA-tak wat oopgemaak word, is een van die mees moderne en tegnologies gevorderde takke in die land en slegs een van drie van sy soort.

KFC sal plek binne hê vir kliënte wat eerder hul ete by die restaurant wil geniet, maar daar sal ook ’n deurry wees vir haastiger kliënte.

Die Portugese koffiewinkel, Vida E Café, is een van die gewildste en bekendste koffiehandelsmerke in die industrie en spog met 300 takke regoor Afrika.

Vir die ouer wat vinnig ’n lekker koffie met verskillende geure en kleure wil gryp, is die winkel perfek geleë, veral wanneer kinders vroeg by die skool afgelaai word of daar tydens ’n sportoefening ’n hunkering na bietjie kaffeïen is.

“Die gemeenskap van Oudtshoorn moet die winkels ondersteun wat bereid is om te kom belê in ons dorp,” het Terblanche du Plessis, besturende direkteur van Klein Karoo Agri aan Die Hoorn gesê.

Vir die persone wat steeds wil sit en ’n lekker boere-ontbyt geniet, bly Karoo Brou net waar hulle is, so ook die vulstasie aan die voorkant van Parkweg. Die karwas sal verskuif na langs die vulstasie.

Die Klein Karoo Agri se meganisasie-afdeling, gaan ’n moderne en spoggerige vertoonlokaal langs die sentrum kry, met ’n glas vertoonvenster en beligting, waar menigte seuns en boere met hartelus kan kom kyk na die pragtige rooi trekkers en implemente.

Klein Karoo Agri Oudtshoorn se handelstak bly net waar hy is, maar word vergroot om die maatskappy se produklyne ook aansienlik uit te brei. Wat daardie produkte gaan wees, is vir eers ’n verrassing.

Die nuwe sentrum gaan dit nie net gemakliker en meer gerieflik maak vir Oudtshoorn se inwoners en studente by die polisiekollege en weermag, wat naby geleë is nie, maar ook sowat 250 nuwe werksgeleenthede skep, waarby Oudtshoorn se huisgesinne baat gaan vind.

Masjinerie is reeds aan die werk en penne is ingekap op die perseel waar die sentrum gebou gaan word. Bouwerk sal amptelik vroeg in Januarie 2024 begin, met 80% van die boukontrakteur se werknemers wat uit Oudtshoorn en Dysselsdorp kom, en so ook sorg dat die inwoners van die dorp voordeel trek uit hierdie ontwikkeling.

“Ons het goeie navorsing en verskeie impakstudies gedoen, om so te verseker dat die winkels wat hier gaan oopmaak, sal werk”, verduidelik Du Plessis. Bouwerk gaan volgens beplanning in November 2024 afgehandel wees en die sentrum gaan oor baie parkeerplek beskik wat inkopies hier nog meer sal vergemaklik.

Die Hoorn het ook met verskeie eiendomsagente en skole gesels oor die groei wat hulle oor die jare in Oudtshoorn ervaar.

Volgens Renier Heunis, van RealNet in Oudtshoorn, het verkope van eiendomme in Oudtshoorn oor die laaste drie jaar met 50% verhoog.

“50% van al ons kopers was van buite die dorp en kom kopers selfs van ons buurdorpe soos George en Mosselbaai,” sê hy.

Hy verduidelik dat daar ook baie kontantkopers van buite Oudtshoorn is, wat huise in die prysklas van R1,5 miljoen en meer koop.

“Huise met woonstelle is baie gewild, maar skaars. Daar is oor die algemeen eintlik ’n tekort aan huise, wat goeie nuus is vir huiseienaars en beteken dat hul eiendom as belegging ’n positiewe groei toon,” sluit hy af.

Jan Verlinde, van Seeff vertel dat hul nuwe ontwikkeling van 150 huise, Pepperwood Lifestyle Estate, in Bloemstraat, se eerste fase soos soetkoek verkoop het. Die ontwikkeling is vroeër vanjaar bekend gestel en in net meer as een maand is die agt 2-slaapkamer huise opgeraap.

“Ons beplan om vroeg volgende jaar 1-slaapkamer huise bekend te stel wat vir beleggers en toekomstige inwoners aanloklik sal wees,” sê hy.

Twee van hul ander ontwikkelings Tribeca Estate en El Dorado se herverkoopwaarde het tussen 9% en 30% gegroei. Dit sluit in een, twee en 3-slaapkamereenhede, waarvan daar slegs twee herverkope in Tribeca Estate sedert die ontwikkeling in 2020 begin het.

Hy brei ook uit oor die huidige huurmark, waar hul 30% meer verhurings behartig as in Januarie vanjaar. “Daar is tans meer vraag as aanbod wat huurhuise betref,” Gemiddelde huurpryse het ook met sowat 11% gestyg vanaf die begin van die jaar. Verlinde sê verder dat huise wat voorheen onverhuurbaar was weens ’n baie hoë huurprys en wat soms onbekostigbaar was, val nou in lyn met nuwe huise wat in die huurmark kom en wat hoër geprys word.

“Die huurmark het ook gegroei en huurhuise is baie skaars en huurpryse het geweldig gestyg,” beaam Heunis.

Verskeie skole in Oudtshoorn sien ook hoe hul leerdergetalle, nie net aan die begin van die jaar klim met nuwe aansoeke nie, maar ook regdeur die jaar soos nuwe intrekkers hul hier kom tuismaak.

Waldo Cloete van Laerskool Wesbank het gesê hulle verwelkom met ope arms nuwe inskrywings. “Ek is opgewonde oor die ekonomiese groei van die dorp, en sien ons ook ’n groei in die skool se getalle die afgelope 5 jaar,” sê hy.

Laerskool Laurus se hoof, SW Vorster sê dat hulle ook ’n groot groei in aansoeke regdeur die jaar sien. Hulle het reeds 40 aansoeke meer vir volgende jaar as die vorige jaar.

Hul kry veral aansoeke vanaf ander provinsies, soos die Noordkaap, Vrystaat en Gauteng. “Die dorp groei en dis wonderlik, want dit beteken dat ons dorp se ekonomie ook groei.” sluit Vorster af.

Gerrit Rudolph, hoof van Hoërskool Oudts-hoorn vertel dat hulle veral oor die laaste drie jaar ’n aansienlike groei sien in aansoeke vir skool- en koshuistoelating van ander provinsies.

“Die rede word hoofsaaklik toegeskryf aan die feit dat die Suid-Kaap ’n veiliger omgewing is, wat beter lewensgehalte aan families bied. Die groter invloei veroorsaak egter oorvol skole in die Suid-Kaap wat Oudtshoorn ’n goeie opsie vir huisvesting maak.

Die lughawe in George tel ook in Oudtshoorn se guns en die feit dat jy binne twee uur in een van die land se groot metro’s kan wees.” verduidelik Rudolph.

Struisies se dubbelmediumskool bied verder ’n veilige platform waar spesialisopvoeders asook die koshuispersoneel die leerders met ervaring en toewyding mentor, wat bydra tot die gesogtheid van die goeie kwaliteit skole wat in Oudtshoorn is.

Alewyn Vorster van Langenhoven Gimnasium sê dat hul definitief groei en daagliks aansoeke ontvang vanaf verskillende plekke. “Afgesien daarvan dat die skool homself gevestig het as ’n goeie skool wat presteer op verskeie vlakke, met baie goeie fasiliteite en koshuisfasiliteite, is daar ook baie huisgesinne wat verhuis vanaf ander plekke na die Suid-Kaap.

Ander dorpe soos George is ook duur, so baie persone soek ’n alternatiewe opsie met goeie skole en dit is waar Oudtshoorn in die prentjie kom,” sluit hy af.

Alle faktore in ag geneem, gaan hierdie nuwe ontwikkeling beslis ’n groot aanwins vir Oudtshoorn wees, nie net wat gerief betref nie, maar ook om die ekonomie verder ’n hupstoot te gee deur werkskepping, nuwe geleenthede en ook vir toekomstige groei. (Deur Angelique Erasmus)