Polisiebeamptes in Ladismith bevorder

Konst Jan Jacobs en Konst Sanet Salmon

TWEE polisiebeamptes van die Ladismith Polisie-kantoor is op 1 Desember 2021 bevorder.

Konst Sanet Salmon en konst Jan Jacobs is albei bevorder tot die rang van sersant.

Sers Salmon is veral in die gemeenskap bekend as die beampte wat belas is met die werwing van reserviste en die belangrike taak om toe te sien dat die Wet op Gesinsgeweld en Geslagsgebaseerde Misdaad korrek toegepas word.

Sers Salmon is ook betrokke by die reël van uitstappies, sport en ander vermaak vir senior burgers wat tot die plaaslike Senior Burgersklub behoort.

Lt-kol Pauline Kriel, plaaslike stasiebevelvoer-der, het in ’n kort toespraak Salmon en Jacobs ge-prys vir hul “toewyding en verbintenis tot reg en geregtigheid”.

Sy het dit ook benadruk dat dit juis in die feestyd gebeur dat gesinsgeweld en veral geweld teenoor vroue en kinders toeneem. “Dit is ’n euwel wat met wortel en tak uitgeroei moet word sodat alle kinders ’n aangename feestyd kan geniet,” het Kriel onder applous van die teenwoordiges gesê. (Deur Deon Meyer)