Plan om swembaddens en besoekers veilig te hou

DIE Groter Oudtshoorn Munisipaliteit het ’n ope­ra­sionele plan ontwikkel om besoekers aan die munisipale swembaddens se veiligheid te verseker asook besoekers en personeel te beskerm teen blootstelling aan en die verspreiding van Covid-19.

Die waarnemende direkteur gemeenskapsdiens­te, Luyanda Fatuse, het op navraag van Die Hoorn gesê die aantal mense wat toegelaat word op die terrein en in die swembaddens word beperk – tot 33% van die kapasiteit van die terrein (maar nie meer as 500 mense nie), terwyl die aantal swemmers nie meer as 50% van die totale swembadkapasiteit mag wees nie.

“Ons het lewensredders opgelei en aangestel om te verseker dat ’n beperkte aantal swemmers in die munisipale swembaddens toegelaat sal word en ons by sosiale distansiëringsprotokol sal hou.”

Volgens Fatuse is ’n gat onlangs in die heining by die Kerkstraat-swembad ontdek. Mense wat die swembad wou besoek, het waarskynlik die gat ge­maak en dit gebruik om die perseel onwettig te betree. Dit het daartoe gelei dat daar soms te veel mense op die terrein was.

Fatuse sê die lewensredders word nou ook deur ander personeel bygestaan wat hulle help met die monitering van die veiligheid van almal by die swembaddens en die handhawing van sosiale af­stand tussen mense.

Die munisipaliteit het ook die nodige aangekoop om te verseker dat die watergehalte van die swembaddens aan die nodige standaard voldoen.

“Swembaddens wat nie aan die standaard voldoen nie, sal tydelik gesluit en behoorlik skoongemaak en onderhou moet word.”