Man verloor alles in brand

Die oorblysels van die huis in Zebraweg wat onder die vlamme deurgeloop het. Foto: Garnett Wicomb

’N MAN wat in ’n “wendyhuis” op die erf van sy broer in Zebraweg, Bridgton, ge­woon het, het Sondag-oggend (23 Januarie) al sy besittings verloor toe sy woonplek binne ’n ommesientjie totaal uitgebrand het.

Volgens Vincent Goba het hy, sy broer, Fergus, en nog twee vriende die oggend in die Wendy gesit en Okapyp rook en ’n paar biere gedrink omdat dit so verskriklik warm was op Oudtshoorn.

Hy is later uit en toe hy weer sien, toe trek rook uit die opslaanhut.

“Ek het maar gedink dit was die rook van die Oka­pyp, maar toe dit erger word , het ek gaan kyk en sien toe dat die plek brand.

“Dit moes seker ’n sigaretstompie of ’n vuurhoutjie gewees het.

“My broer en een van die vriende het uitgehardloop en ek het die ander vriend uitgetrek van waar hy op ’n bank aan die slaap geword het.”

“Gelukkig is niemand beseer nie.”

Volgens Goba het sy hond wat dieper in die hut ingehardloop het ongelukkig doodgebrand.

Niks in die hut kon gered word nie.

Goba sê die brandweer wat in die omgewing was, kon die vuur vinnig blus en verhoed dat die hoofhuis, nog ’n buitekamer en ’n buitekamer van die bure ook uitbrand.

Sy buitekamer kon gered word maar al sy vensters en sy 73 cm-televisie het ontplof.

Volgens Marica Prins wat saam met haar broer, Marthinus, in ’n buitekamer op die erf langsaan Goba s’n woon, het hulle daarin geslaag om hul besittings uit te dra.

Die muurpanele teen die sinkplaat het egter in die slag gebly.

“Ons het regtig baie skade gely as gevolg van die hitte en brandweer se water,” het sy gesê.

• Mense wat die slagoffers van die brand op enige wyse kan help, kan vir Marica Prins by 078 603 8669 skakel. (Deur Garnett Wicomb)