DIE kollig het September landwyd op die veilig-heid van polisiebeamptes geval. Op 5 September is by die Nasionale Polisie-gedenkdag by die Unie-gebou in Pretoria hulde gebring is aan 34 polisie-beamptes wat hul lewens vanjaar verloor het terwyl hulle aan diens was.
By die geleentheid het pres Cyril Rampaphosa gesê die gemeenskap moet saam met die Polisie werk en misdaad aanmeld.
Op Oudshoorn het geen polisiebeampte sy lewe aan diens verloor nie. Beamptes word egter volgens die stasiekommissaris, brig Susan Crafford, gereeld aangeval, aangerand en beseer terwyl hulle aan diens is.
Dit het die naweek weer gebeur tydens ’n polisieoptrede teen onwettige dwelms.
“Die Polisie is ongelukkig die middelpunt wanneer konflik plaasvind en het heeldag met die negatiewe te doen. Tree die polisiebeamptes op, word hulle aangeval, aangerand en voertuie word beskadig, en word daar nie opgetree nie. Dan word die Polisie as sleg beskou. Die gemeenskap moet saam opstaan teen onwettige en misdadige bedrywighede en help om misdaad te bekamp.”
Crafford sê egter Oudtshoorn se Polisie is ondanks die risiko’s en gevare daartoe verbind om misdaad te bekamp en te ondersoek. “Ons sê baie dankie aan almal wat saam met ons ’n verskil wil maak en hulle deel doen om die Polisie by te staan in hul taak. Saam kan ons ’n verskil maak!”
Volgens statistiek wat deur die minister van polisie, Bheki Cele, bekend gemaak is, het 852 lede van die SAPD ook sedert verlede jaar aan Covid-19-verwante komplikasies gesterf.