Moordsaak teen Calitzdorp-vrou uitgestel vir getuienis van dokter

DIE saak teen Elizabeth Baartman van Calitzdorp wat haar saamleefmaat, Henry Pietersen, glo op 17 Oktober 2020 met ’n groentemes doodgesteek het, is vandeesweek in die Oudtshoorn Streekhof vir die getuienis van die dok­ter wat die nadoodse ondersoek gedoen het asook ’n tweede poli­sie­beampte tot 14 Oktober uitgestel.

Baartman pleit onskuldig op ’n klagte van moord. Konst Christopher Jacobs het getuig dat Baartman hom met sy aankoms meer as een keer meegedeel het dat sy nie bedoel het om Pietersen dood te steek nie.

Nog ’n getuie, William Baartman (nie familie van die beskuldigde nie), het getuig dat hy saam met Baartman, die oorledene en nog ’n vriend Brian “Boy” Minnie in die huis was waar sy besig was om groente te skil. Hy is later uit om ’n draai te loop.

Toe hy met sy terugkoms om die hoek van die huis kom, het hy Baartman met ’n bebloede mes in haar hand sien staan terwyl Pietersen ’n paar tree weg op sy rug gelê het. Hy het nie enige mes by die oorledene sien lê nie, het hy getuig.

Volgens die beskuldigde se regsverteenwoordiger, Wenzel Bo­tha, sal sy getuig dat Pietersen haar met ’n blik aangerand het terwyl sy besig was om aartappels te skil. Die twee getuies het verskil oor die tyd van die voorval.

Die saak is op versoek van die staatsaanklaer, Hyron Golding, deur streeklanddros Ntsoki Moni uitge­stel. Baartman is op waarskuwing. (Deur Garnett Wicomb)