BORGTOG van onderskeidelik R500 en R300 is verlede Donderdag (23 September) in die Oudtshoorn Streekhof toege-staan aan twee van drie verdagtes van De Rust wat van roof aangekla word.
Cedric Bakkies (45), Karel Swartbooi (44) en Jakob Benn (53) word daarvan aangekla dat hulle op 6 September vanjaar vir Adam Smit aangerand en van R300 in kontant beroof het.
Swartbooi, met nege vorige veroordelings, het die hof om borgtog gevra omdat hy vir sy drie kinders en hul ma wil gaan werk om “iets op die tafel te sit”.
Hul enigste ander inkomste is die toelae vir die kinders en hy was tien jaar gelede by misdaad betrokke, het hy gesê.
Benn, met 19 vorige veroordelings, het die hof om borgtog gevra omdat hy met boerbokke boer en die bokke geskut word wanneer hy nie by die huis is nie.
Hy verkoop so drie of vier boerbokke per maand teen sowat R1400 stuk.
Swartbooi en Benn se regs-hulpprokureur Brian Carelse het die hof versoek om in belang van geregtigheid borgtog toe te staan.
Elana Goosen, staatsaanklaer, het nie borgtog teengestaan nie.
Landdros Stephanie Strydom het borgtog van R500 aan Swartbooi en R300 aan Benn toegestaan op voorwaarde dat hulle nie met die klaer kontak maak nie.
Bakkies, wat nie vorige veroordelings op sy rekord het nie, is op waarskuwing vrygelaat en die saak vir verdere ondersoek tot 22 Oktober uitgestel. (Deur Garnett Wicomb)