Polisie spoor gesteelde vuurwapen blitsvinnig op

DIE Oudtshoorn Polisie het Saterdag (27 November) daarin geslaan om ’n gesteelde vuurwapen blitsvinnig op te spoor nadat dit vermoedelik uit ’n sekerheidswag se hokkie gesteel is terwyl hy op patrollie was.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is die wapen tussen 05:40 en 05:48 uit ’n waghokkie by CP Nel Bakwerke gesteel terwyl die wag op sy rondtes uit was.

Hy sê die wag het, toe hy by sy waghokkie terugkom, opgemerk dat daar ingebreek is en die wapen gesteel is.

Volgens Visser is daar onmiddelik opvolgwerk gedoen, en ’n verdagte, Zolan Jansen (29), is later die oggend in hegtenis geneem.

Die vuurwapen is teruggevind.

Die polisie ondersoek tans ’n saak van huisbraak en diefstal. Jansen het reeds op 29 November in die hof verskyn. (Deur Stefan Skapie Goosen)