Op Vrydag, 13 September, het die Oudtshoorn Polisie gereageer op inligting oor onwettige aktiwiteite by ’n huis in Bonteboklaan in Bridgton. Daar is op 111 liter drank beslag gelê en ’n 34-jarige vrou is op aanklag van handel in drank sonder ‘n lisensie, in hegtenis geneem.
Op dieselfde dag het lede van die polisie ook op ’n huis in Thabo Mbeki-plein in Bongolethu toegeslaan en 22 bottels (750 ml) bier gekonfiskeer. ’n 56-jarige man is gearresteer op aanklag van handel in drank sonder ’n lisensie.
Die polisie het ook inligting ontvang oor onwettige aktiwiteite by ’n huis in Beleliestraat in Dysselsdorp en daar is op 12 Mandrax-tablette, 31 sakkies dagga en vyf kratte met bier beslag gelê. Twee inwoners van 33 en 57 jaar oud, is gearresteer. Hulle staan tereg op die aanklagte van handeldryf met dwelms asook die verkoop van drank sonder ’n lisensie.
Die verdagtes verskyn in die Oudtshoorn landdroshof. Volgens sers. Chris Spies, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, is hierdie operasies deel van die polisiëringsbenadering van die Wes-Kaap om dwelmmisbruik wat kwesbare gemeenskappe teister, uit te wis. (Deur Lindi Brill)
Polisie slaan toe op drank en dwelms
Van die drank waarop beslag gelê is tydens die klopjag. Foto verskaf