Eljada ontvang reuseskenking

Tydens die oorhandiging van die skenking is, van links: Jason de Boer (Nomads), Riana Louw en Gerda Swart (Eljada), Fanus Truter, Dominik Dimatellis en Tjoepie Pretroius (Nomads). Foto: Hannes Visser

Eljada Nasorgsentrum vir volwassenes met gestremdhede kry hierdie week ’n dubblele geskenk. ’n Bedrag van R170 000 is Sondag 15 September deur die Nomads Gholfklub van die Suid-Kaap aan die sentrum bewillig toe ’n simboliese tjek aan Gerda Swart, hoof van Eljada, oorhandig is.

Die tweede deel van die geskenk vind Saterdag plaas as Mej. Suid-Afrika, Mia le Roux, saam met die Nomads by Eljada besoek aflê om die skenking te oorhandig.

Volgens Fanus Truter, vise-kaptein van Nomads word die geld deur Nomads aangewend om noodsaaklike benodighede aan te koop waarvoor Eljada gevra het. Volgens hom word fondse vir projekte soos Eljada jaarliks geloods en fondse word bekom deur gholfdae wat die Nomads hou waar lootjies verkoop word en veilings aangebied word.

Hulle ontvang ook geld vanaf die Andrew Mentis Trustfonds en borgskappe van SA Brouerye en Hollywood Bets. Die Andrew Mentis Trustfonds is geskep deur Andrew Mentis wat ’n stigterslid van Nomads in 1967 was. Daar is tans 12 Nomad-klubs in Suid-Afrika en ook verskeie Nomad-klubs in die buiteland. Nomads Suid-Kaap is 39 jaar gelede by die Oudtshoorn-gholfklub gestig.

’n Oorstelpte Gerda Swart het Sondag tydens die verrigtinge gesê dat volgens haar kennis is die bedrag van R170 000 die grootste enkelskenking wat Eljada nog ooit ontvang het. “Julle het geen idee watter ongelooflike betekenis hierdie skenking vir Eljada het nie,” het sy gesê nadat sy die tjek ontvang het. (Deur Hannes Visser)

Be the first to comment on "Eljada ontvang reuseskenking"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*