POLISIEBEAMPTES verbonde aan die Eden Kluster Misdaadbestrydingspan en die Eden Misdaadintelligensietak op Oudtshoorn het Maandag op 11 dwelmpersele op Oudtshoorn toegeslaan.
Volgens kapt Malcolm Pojie, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, is lasbriewe verkry om die persele in Bridgton, Bongolethu en die Groter Oudtshoorn te deursoek.
Agt verdagtes – sewe mans tussen 18 en 52 jaar en een 40-jarige vrou – is in hegtenis geneem vir die onwettige besit en handel in dwelms.
Pojie sê die polisie het tydens die operasie op dwelms ter waarde van sowat R274 000 beslag gelê.
Dit sluit 49,5 kg dagga, 413 Mandrax-tablette en 12 gram Tik in.
Daar is tydens die operasie ook op R3 919 kontant beslag gelê en op kraggereedskap ter waarde van sowat R20 000.
Die meeste verdagtes het Dinsdag en Woensdag op klagtes van dwelmhandel of die besit van vermoedelik gesteelde goedere in die Oudtshoorn Landdroshof verskyn.
Polisie slaan toe op 11 dwelmpersele op Oudtshoorn
Bo: Tydens die deursoeking Maandag van dwelmpersele op Oudtshoorn het die polisie beslag gelê op dié kraggereedskap en word ’n saak van die besit van vermoedelik gesteelde goedere ondersoek. Onder is van die dwems waarop beslag gelê is. Foto’s verskaf