DIE gemeente van die NG Kerk in Volmoed vier van 26 tot 28 November 2021 hulle 100ste bestaansjaar met ’n stampvol naweek se eeufeesvieringe.
Elke klein dorpie het sy eie argitektoniese skat – daardie een ikoniese gebou wat op poskaarte verskyn en deur toeriste afgeneem word. Volmoed, buite Oudtshoorn, se historiese trots is die kerkgebou van die Nederduitse Gereformeerde Gemeente Volmoed.
Dié merkwaardige kerkgebou is reeds in 1911 op die plaas Armoed ingewy. Afstigting van die NG Moedergemeente is egter 10 jaar later eers goedgekeur, en die NG Gemeente Volmoed is amptelik op 29 November 1921 gestig.
Die kerk is gebou met 700 sitplekke, en die kenmerkende orrel wat tans steeds die lofgesang lei, is in 1959 geïnstalleer.
Tydens die eeu wat die gemeente se bestaan, het 11 leraars die gemeente gedien, met een van dié gemeenskapsleiers wat twee keer aan die stuur van die kerk gestaan het. Tans is die kerk die geestelike tuiste van 95 belydende en 19 dooplidmate.
Met vanjaar se opwindende eeufeesvieringe wil die gemeente die breër gemeenskap van die Klein Karoo uitnooi om saam in hul vreugde te deel. Dit is ’n geleentheid vir vriende, familie en huidige en oud-gemeentelede om lekker saam te kuier en die kerk se ryk geskiedenis en diens aan die gemeenskap te vier.
“Oor die jare het ons gemeente buitengewone toetse oorleef: van droogtes, oorstromings en siektes tot konflik en nou selfs Covid-19. Dit was alleen moontlik deur die Vader se genade. Kom gesels oor al die kosbare herhinneringe oor ’n bakkie basaarpoeding. Die volgende 100 jaar hang af van geloof, hoop en liefde,” sê ’n woordvoerder van die gemeente.
Die program van die naweek se verrigtinge sluit ’n orrel- en musiekuitvoering deur onder andere Japie Liebenberg in. ’n Pretstap en ’n vleisfees met wegneemetes sal Saterdag vir lekkerkuier sorg, terwyl ’n Sondag-erediens met nagmaal vir vriende en familie die kans sal bied om hul welwillendheid teenoor die kerk te toon.
’n Dankbaarheidsaltaar sal ook gepak word na die diens.
Vir meer inligting oor die NG Gemeente Volmoed se eeufeesvieringe, besoek gerus die NG Kerk Volmoed se Facebook-blad of skakel vir Clara by 084 504 3377. U kan ook ’n e-pos stuur aan ngkvolmoed@vodamail.co.za.
Volg die skakel om na die gemeente se eeufees-blad te kyk: https://www.oudtshoorninfo.com/project/nederduitse-gereformeerde-gemeente-volmoed/
Volmoed Eeufeesprogram
Vrydag 26 November 2021
19:00 NG Kerk Volmoed
Orrel en musiek uitvoering in die kerk met onder andere Japie Liebenberg.
Sagte kollekte by deure.
Saterdag 27 November 2021
Volmoed kerksaal
07:30 vir 08:00 Inskrywings en Pretstap begin.
Fondse gaan vir bybelverspreiding
Volwassenes – R20 / Kinders – R10
08:00 Kiosk open
Pannekoek, jaffels, boereworsrolle, koeldrank, basaarpoeding, koffie en tee
09:00 Pretstap prysuitdeling by saal
10:00 Vleisfees
Ook te koop: Eeufees-bekers, resepteboeke en sleutelhouers
11:00 – 12:00 Wegneem-etes beskikbaar
Tjop, wors, hoendersosatie, 2 slaaie, broodjie
R80 – Kaartjies: Clara 084 504 3377
Sondag 28 November 2021
NG Kerk Volmoed
09:30 Erediens met nagmaal
Na diens Altaar pak, Sondagskoolafsluiting, tee.
Almal moet asseblief ‘n klip saambring.
