Makliker om eie groente te verbou as wat jy dink

Ronald Stevens gooi van sy nuutgeplante saailinge nat EN dit is maar net ’n gedeelte van Ron Stevens se permakultuurtuin. Foto’s: Stefan Skapie Goosen

“’N MENS het nie miljoene liter water nodig om kos te verbou nie. Dit is baie beter om een hektaar grond te hê wat produktief is, as om te wag tot ’n mens genoeg water het om 100 hektaar grond te besproei en dan eers ’n opbrengs te lewer.”

Ronald Stevens van Oudtshoorn, wat ’n perma-kultuurtuin het, sê die voordeel daarvan om ’n groentetuin in jou agterplaas aan te lê is dat dit tot jou eie voordeel en die voordeel van die gemeenskap om jou kan wees.

Die Hoorn het in Oktober vanjaar met Stevens gesels oor hoekom inwoners van die dorp – en so ook dorpe regoor die land – op klein skaal volgens die permakultuurbeginsels groente en vrugte moet verbou. Dit kan gemeenskappe bymekaar bring en ook help om ons natuurlike hulpbronne vir die toekoms verseker.

Vandeesweek verskaf Stevens wenke oor hoe om ’n groentetuin in jou eie agterplaas aan te lê.

Stevens is ’n gebore Oudtshoorniet met ’n agtergrond in die groen bedryf, wat hom na aan die hart lê. Hy het deur die manier hoe sy ouers hom grootgemaak het, sy na-skoolse studies in besigheid en finansies en met ondervinding by onder meer die nie-winsgewende organisasie Greenpop geleer en besef dat om jou eie groentetuin volgens die permakultuurbeginsels aan te lê tot voordeel van die samelewing sal wees.

Stevens, wat in Jan van Riebeeckweg in Wesbank-Noord woon, het met die aanvang van die Covid-19-pandemie van Gauteng teruggekom na Oudtshoorn. Hy sê die ongebruikte stuk grond op sy ouers se erf kan vir baie meer as net blomme, gras en bome gebruik word.

“Dit gaan alles oor toekomstige voedselsekerheid. Ons kan nie vir ewig op grootskaalse, enkelgewasgroenteboere staatmaak nie,” sê hy.

Maar waar en hoe begin ’n mens?

“’n Hektaar se groentetuin kan jaar ná jaar aangaan omdat daar genoeg water is. Om self water op te vang help.” Volgens Stevens kan die mensdom nie meer wag vir damme om vol te raak nie, dus moet jy self begin plan maak.

Hy erken hy is gelukkig dat die stuk grond waarop hy tans tuinmaak deel is van eiendom wat sy ouers besit, “maar dit is steeds moontlik vir enigeen. Jy kan selfs op ’n stukkie grond van 5 m X 5 m ’n verskil aan jou eie voedselverskaffing maak,” sê hy.

Stevens het reeds watertenke aangeskaf wat dit moontlik maak om nie net reënwater nie, maar ook afvalwater op te vang en te gebruik om sy groentetuin mee nat te gooi. Om klein te begin en uit te brei is een van die beginsels van permakultuur. Dis beter as om groot te begin en om dit dan nie te kan volhou nie, het hy gesê.

Buiten watervoorsiening, is die voedingstowwe wat jy jou tuin mee bemes van groot belang. Die stuk grond waarop hy tans sy groentetuin aangeplant het, was eers dor, maar met die nodige werk en die opbou van sy eie komposhope het hy dit vinnig verander. ’n Komposhoop asook die bedryf van ’n erdwurmplaas het vinnig die voeding-stowwe wat die grond en plante benodig aangevul. Stevens het van die begin af kompos in sy beddings ingewerk.

Hy het nou ook sy bure betrokke gekry by sy die groentetuin. Hulle gee weekliks hul organiese afval vir hom om in sy komposhoop te gooi wat dan gebruik word om sy groentetuin te bemes. Almal baat daarby. Hulle gee vir hom tuin- en kombuisafval, wat dan afgebreek word en in kompos verander word in sy erdwurmplaas.

Die komposhoop is ook maklik om te in stand te hou nadat jy dit eers aan die gang het. Al wat jy benodig is hoop organiese materiaal wat elke paar weke omgedolwe moet word totdat alles afgebreek het. Die erdwurms help met hierdie proses.

Buiten die water en bemesting vir jou tuin, is die res taamlik maklik. Dit het wel veral aan die begin jou tyd en aandag nodig. Daarna moet jy die groei-proses dophou en aandag skenk as dit nodig raak.

“Ek wil graag vir mense wys hoe maklik dit kan wees. Dit verg ’n bietjie toegewyding en werk. Die afval-strome wat jy skep deur herwinning, verminder dit wat jy weggooi wat op die tiep eindig. Die spreekwoord One man’s trash is another man’s treasure is baie waar. Daarom moet ons as bure en gemeenskappe begin saamwerk,” het Stevens gesê. “Ons moet ophou mors!” het hy bygevoeg.

Die aanvanlike inset vir jou eie permakultuur-groentetuin mag dalk hoog wees, maar voor jy weet betaal jy die skuld af, en baat jy net daarby. Sy tuin met 15 beddings, waaruit hy reeds oes, het slegs ’n paar maande geneem om aan te lê.

In ligter trant sê hy dat dit aan die begin wel baie “elbow grease” gekos het om sy tuin aan te lê. “Ek kan egter nou maklik binne ’n dag ’n kleiner weergawe in enige tuin skep,” sluit hy af. (Deur Stefan Skapie Goosen)