’N OUDTSHOORNIET wat diep spore in die lusernbedryf van Suid-Afrika getrap het, Derick Engelbrecht (71), is Sondag (14 November) aan ’n hartaanval oorlede.
Engelbrecht is op Oudtshoorn gebore en het 32 jaar lank vir die Nasionale Lusern Trust (NLT) op die dorp gewerk. Dié trust sien om na die belange van lusernboere landwyd.
Sy loopbaan by die NLT (toe nog die Lusernsaadraad) het in 1986 begin en in 1990 het hy as bestuurder oorgeneem. Met sy aftrede in 2017 was Engelbrecht die administrateur van die NLT
Sy opvolger by die NLT, Sunet Vermeulen-Fenthum, het met sy aftrede gesê Engelbrecht het “deur sy opregtheid en werklike belangstelling in elke liewe mens wat oor sy pad gekom het, respek en erkenning in die landboubedryf ontvang”.
Tydens sy loopbaan by die NLT het Engelbrech vir verskeie hoogtepunte gesorg.
Engelbrecht was ook bekend in toerismekringe.
Hy en sy vrou, Amanda, het die Cul de Sac-gastehuis in die middel-1990’s op die dorp begin en jare lank bedryf.
Volgens sy seun Billy het die Engelbrechts ’n gedeelte van hul huis met die eerste kunstefees op die dorp beskikbaar gestel vir gaste om oor te bly. Dit was so suksesvol dat hulle daarna besluit het om ’n deel van hul huis in ’n doodloopstraat as gastehuis te bedryf.
’n Troosdiens vir Engelbrecht vind Saterdag om 11:00 in die NG Gemeente Park op Oudtshoorn plaas.
Hy word oorleef deur Amanda, twee seuns – Billy en sy vrou Vanes-sa, en Jacques en sy vrou Tanya, asook deur drie kleinkinders. (Deur Liesel le Roux)
Bekende in lusernkringe sterf weens hartaanval
Derick Engelbrecht (71).