DIE Oudtshoorn Polisie het die afgelope week 162 mense in hegtenis geneem in verband met dwelm- en drank- verwante sake, roof, huisbraak, aanranding, diefstal uit ’n voertuig en verkragting.
Woensdag, 9 Junie, is beslag gelê op 200 Mandrax-tablette toe ’n voertuig op die Oudtshoorn/De Rustpad deursoek is. Volgens Visser was die bestuurder op pad De Rust toe waar hy woon, en is hy in hegtenis geneem.
In nog ’n voorval is ’n verdagte op Unieplein in hegtenis geneem en is op elf “bankies” tik beslag gelê. Visser sê die Polisie het van 7 tot 14 Junie altesame 42 mense in verband met dwelm-verwante misdade in hegtenis geneem.
Op Vrydagmiddag, 11 Junie, is in Kameelweg op 58 liter drank beslag gelê en die eienaar van die huis in heg-tenis geneem vir die onwettige handel in drank.
Visser sê polisie-optredes teen drank en dwelms gaan voort omdat dit dikwels tot meer misdaad lei.
Twee vermeende verkragters van onderskeidelik 22 en 25 jaar oud is ook in hegtenis geneem. In albei gevalle was die slagoffers 15 jaar oud. Seksuele omgang met ’n meisie tussen 12 en 16 jaar oud is statutêre verkragting en is ’n misdaad al gee die meisie toestemming, het hy verduidelik.
Visser sê danksy samewerking tussen maatskaplike dienste en klinieke het dié voorvalle onder die Polisie se aandag gekom en is dit verder ondersoek. In een van die voorvalle is ’n 15-jarige meisie se “kêrel” in hegtenis geneem nadat hy haar swanger gemaak het.
Visser sê die inhegtenisnemings die afgelope week was twee vir roof, een vir huisroof, twaalf vir aanranding, twee vir huisbraak, en elf vir diefstal uit ’n voertuig ingesluit. Veertien van die 162 inhegtenisnemings was vir die besit van ’n gevaarlike wapen.
Brig Susan Crafford, stasiebevel-voerder, het die publiek bedank vir hul bydrae om die inhegtenisnemings te doen. Sonder die publiek se oë en ore sal dit moeilik wees om misdaad te be-kamp en sal daar baie minder inhegtenisnemings wees, sê sy.
• Twee mans van Ladismith, 23 en 65 jaar oud, het Dinsdag (15 Junie) in die Ladismith Landdroshof verskyn op aanklagte van die handel in dwelms nadat hulle onderskeidelik Sondag en Maandag in hegtenis geneem is.
Volgens sers Chris Spies, woord-voerder van die Suid-Kaap Polisie, het misdaadvoorkomingsaksies deur die Ladismith Polisie dit moontlik gemaak om die twee mans vas te trek met dwelms wat altesame ’n geraamde straatwaarde van R29000 het.
Spies sê die 23-jarige verdagte is Sondag omstreeks 22:00 vasgetrek toe lede van die Ladismith Polisie ’n voertuigkontrolepunt langs Roete 62 tussen Ladismith en Barrydale opgestel het. Hy sê die beamptes het ’n wit minibustaxi voorgekeer. Toe hulle die voertuig deursoek, het hulle dwelms in die bagasie van die verdagte, ’n passasier, gevind.
“Die Polisie het beslag gelê op 300 Mandrax-tablette en twee pakkies dagga met ’n geraamde straatwaarde van R20000,” sê Spies.
Die volgende dag (Maandag) het dieselfde beamptes, in besit van ’n deursoekbevel, op ’n huis in Koenzestraat toegesak waar hulle 180 tik-strooitjies op die perseel gevind het wat in ’n pyp in ’n Wendy-huis versteek was.
“Hulle het beslag gelê op die dwelms en ’n 65-jarige man in hegtenis geneem,” sê hy.
Volgens Spies dui ’n voorlopige ondersoek aan dat die dwelms vir Ladismith bestem was.
Genl-maj Oswald Reddy, bevelvoerder van die Eden Kluster, het die beamptes geprys vir hul waaksaamheid om die dwelms van die strate te verwyder.
Hy het ook die publiek bedank vir die inligting wat gelei het tot die beslaglegging en daaropvolgende inhegtenisnemings. (Deur Stefan Skapie Goosen)