Hofsaak oor tragiese dood van drie in botsing begin op 22 Julie

Chandre Nortje (links), Bertrum Michaels (middel) en Jacques (Jacklin) Prinsloo. Foto’s verskaf

DIE saak teen ’n jongman van Oudts­hoorn wat tereg staan op drie aanklagte van strafbare manslag nadat hy en vier vriende in ’n botsing betrokke was, is verlede week vir verhoor deur streeklanddros Ntsoki Moni tot 22 Julie uitgestel.

Xavier Arends (24) was die be­stuur­der van ’n motor wat op 13 Julie 2020 op die N12 die pad verlaat en gerol het. Arends en die ander jongmense was op pad terug na Oudts­hoorn vanaf Dysselsdorp waar hulle die aand saam­ge­kuier het toe die voertuig sowat 5 km buite Oudts­hoorn ’n betonversperring langs die pad getref het.

Twee van die insittendes, Jacques (Jacklin) Prinsloo (26) en Bertrum Michaels (22), het aan hul beserings beswyk, terwyl Chandre Nortje (18), ’n leerder van die Oudtshoorn Vaar­digheidskool, vyf dae na die botsing in die George Hospitaal gesterf het.

Jacques het vir die padkontrakteursfirma Roadmac gewerk, terwyl Bertrum ’n student was aan die Suid-Kaap Kollege.
Arends en die vyfde insittende is albei ook ernstig in die botsing beseer en in die George Hospitaal behandel.

Die botsing het destyds skokgolwe deur die gemeenskap gestuur.

Die staatsaanklaer, Willem Vister, het die hof meegedeel dat die staat tien getuies sal roep terwyl die verdediging voorlopig twee getuies sal roep. Arends is op waarskuwing. (Deur Garnett Wicomb en Liesel le Roux)