Plaas PA Leesfees op jou kalender

Die leesfeeskomitee tydens een van hulle vergaderings is, van links: Linda Fodor (voorsitter), Annemi Boshoff, Hannes Visser, Reinie Smit, Thana de Clerk, Jeanette Nel, Linda Jaquet en Elsabe Koen. Foto verskaf

Die gewilde Prince Albert Leesfees vind vanaf Vrydag 29 Augustus tot Sondag 31 Augustus plaas. Hierdie fees is reeds vir meer as ’n dekade een van boekliefhebbers se gunstelinggeleenthede.

Verlede jaar was die leesfees vir die eerste keer in die pragtige Showroom-teater aangebied. Die terugvoer was so positief dat dit vanjaar weer daar aangebied word.

Soos met vorige feeste word weer ʼn program beplan wat boeke en skrywers uit verskillende genres betrek.

Alhoewel die finale program nog nie gefinaliseer is nie, het skrywers soos Martin Steyn, Andrew Wilson, Tom Dreyer, De Wet Bischoff en die bekende kunstenaar, Alex Hamilton reeds uitnodigings aanvaar om vanjaar deel te neem.

Die Prince Albert Leesfees-program begin Vrydagaand met ʼn huldiging van die lewe en skryfwerk van Annelie Botes, een van Afrikaans se gewildste skrywers.

Sondagoggend se program word deur plaaslike skrywers gevul en die oggend word begin met Poetry at Sunrise wat verlede jaar vir die eerste keer by Kritikomkoppie aangebied is. Vir talle feesgangers was dit verlede jaar ʼn feeshoogtepunt.

Oudergewoonte word die fees op Sondag 31 Augustus by ’n restaurant afgesluit met ’n ete wat uit ’n kookboek van ʼn interessante en kleurvolle kok voorberei word. Vanjaar se gas is die neurochirurg, avonturier, kok en stigter van Pedriatic Care SA, Dr André Hattingh met sy kookboek, Cooking with Doc.

Die skryfkompetisie wat verlede jaar weer in die lewe geroep is, word ook beplan mits ’n borg vir die prysgeld gevind kan word.

Die finale feesprogram sal teen die middel van Mei beskikbaar wees waarna kaartjies deur Quicket bespreek kan word. Akkommodasie vir daardie naweek raak skaars aangesien Prince Albert, juweeldorp van die Karoo, ’n gewilde toeristebestemming is. Bespreek dus vroegtydig. (HANNES VISSER)