Arbeidsgenot, die huis van CJ Langenhoven in Jan van Riebeeckweg, kry op 8 Mei nuwe lewe as die 100-jarige bestaan van Afrikaans as amptelike landstaal herdenk word.
Die Arbeidsgenotkomitee het herdie week die program vir die dag opgestel en inwoners word genooi om die verrigtinge by te woon.
Die dag begin met begeleide toere vir klein groepies deur die Langenhoven-kenner Mariana Swanepoel. Die toere vind plaas om 10:00, 11:00, 12:00 en 13:00. Koste per persoon is R20,00 en voorafbespreking is nie nodig nie.
Om 14:00 is daar ʼn kort praatjie gevolg deur ʼn vlaghysing en die aanplant van drie katjiepeiring-bome deur die hoofleiers van Hoërskool Langenhoven in Riversdale en Langenhoven Gimnasium.
Die hoofleiers van hoërskole in die Groter Oudtshoorn word ook genooi om die middagprogram by te woon.
Daar sal om 15:00 weer geleentheid wees om die Arbeidsgenot-besigting te doen. Dit is gratis vir die leerders wat die geleentheid bywoon.
Die dag word afgesluit met ʼn funksie in die Neelsie-teater wat om 18:00 begin. Die bekende en gesoute akteurspaar, Johan en Lida Botha gaan aan die woord wees met kort voorlesings van Langenhoven se werk en van die eerste gedigte wat in Afrikaans verskyn het.
Bywoning van die aandprogram beloop R30,00 per persoon wat verversings insluit.
Slegs 100 kaartjies is beskikbaar en kan vooraf gekoop word by die KKNK-kantore agter Arbeidsgenot, Oudtshoorn Courant in Voortrekkerweg en Die Hoorn in Koöperasiestraat. Vir meer inligting skakel Hannes Visser by 083 467 1522. (HANNES VISSER)
Kry jou kaartjies vir Arbeidsgenot-viering
Die Neelsie-teater by Arbeidsgenot. Foto: Hannes Visser