Donkiekarrit beteken nuwe lewe vir Nahkesha

Bo: Nahkesha in die splinternuwe stoel by haar ma, Nadine Stuurman. By hulle is, van links, Franette Botha (Geneeskundig orthodis), Joyce Crompvoets (Pedriatic Care SA) en Daniella de Kock (arbeidsterapeut) Foto’s: Hannes Visser Onder: Nahkesha en haar ma, Nadine wag dat die verstellings aan die stoel gedoen word.

Hierdie week was ’n besondere week vir klein Nahkesha Stuurman (3) van Blomnek, De Rust. Sy het Donderdag ʼn spesiale stoel wat R85 000 kos, ontvang sodat haar ouers, Nadine Stuurman en Neil le Roux haar kan vervoer en versorg. Die stoel is deur Pedriatic Care SA aangekoop en word deels befonds deur geld wat dr André Hattingh die af-gelope 17 dae met sy 500 km donkiekarrit ingesamel het.

Die Hoorn was Woensdagmid- dag by toe Joyce Crompvoets, egge-note van dr Hattingh, die stoel, Nadine en Nahkesha by die praktyk van die arbeidsterapeut, Daniella de Kock, in Oudtshoorn besorg het sodat die stoel volgens Nahkesha se klein lyfie verstel kon word. ’n Geneeskundige orthotis, Franette Botha, het spesiaal van George gekom om die nodige verstellings aan die stoel te maak. Die stoel is gister met die voltooiing van dr Hattingh se rit, amptelik aan die Stuurmans oorhandig.

Nadine Stuurman sê sy kan nie glo dat haar dogtertjie wat geen beweging in enige ledemate het, so ’n stoel ontvang het nie. Sy vertel dat Nahkesha in haar tweede jaar siek geword het en die dokters het bevind dat sy breinvliesontsteking opgedoen het. Die gevolg is dat die dogtertjie sedertdien serebraal gestremd is.

Haar ouers moet haar oral dra en sy kan glad nie regop sit as hulle haar versorg of voer nie. Met die spesiaal-ingerigte stoel sal sy nou nie net kan sit nie, maar ook rondgestoot kan word. Nadine sê dat sy vol hoop is dat haar dogter se toestand met terapie kan verbeter, maar sy weet nie tot watter mate daar verbetering kan kom nie.

Sy en Neil het ook ʼn seuntjie van ’n jaar. Albei is werkloos en as dit nie was vir dr. Hattingh en die mense wat Pedriatic Care SA ondersteun nie, sou daar geen manier gewees het om enige toerusting vir Nahkesha te kry nie.

Nadine se niggie, Christina (Poppie) Smidt, was ook saam. Dit was sy wat Nahkesha se ernstige toestand onder Dr. Hattingh se aandag gebring het.

“Ek is die huiswerker by dr Hattingh en sy vrou. Hy het my vertel van die donkiekarrit en gevra of ek dalk weet van ’n minderbevoorregte kind wat dringend hulp nodig het. Hy het verduidelik van die stoel wat hulle wil koop en ek het vir hom gesê daar is twee kinders waarvan ek weet. Enetjie is al byna agt en die ander een is Nahkesha wat drie is. Hy het gesê die stoel sal vir haar reg wees omdat sy nog so klein is,” het Poppie Woensdag vertel.

Poppie woon naby die Stuurmans en ken die uitdagings waarmee die gemeenskap van Riemvasmaak, die informele nedersetting langs Blomnek, te kampe het.

Sy is nou betrokke by die gemeenskap en het ook ’n nasorgsentrum vir kinders uit die gemeenskap. Die verstellings wat Woensdag aan die stoel gedoen was, is voorlopige verstellings, verduidelik Crompvoets. Hulle neem volgende week vir Nahkesha en die stoel na George waar nog onderdele aan die stoel geheg word en fyner verstellings gedoen sal word.

Botha het verduidelik dat die stoel verstel moet word soos wat Nahkesha groei en dat sy dit moontlik vir ’n aantal jare sal kan gebruik.

Dit is nog nie seker of daar genoeg geld ingesamel was om die totale koste van die stoel te dek nie, maar dit is reeds deur Pedraitic Care SA betaal, sê Crompvoets. Mense of instansies wat nog tot die projek wil bydra kan Pedriatic Care SA se web- tuiste besoek.

Alle fondse wat deur die organisasie, wat deur Dr André Hattingh, afgetrede neuro-chirurg gestig is, word aangewnd vir mediese sorg vir mense wat hulpbehoewend is en vir noodsaaklike operasies en behandeling van kinders. (HANNES VISSER)