Oudtshoorn se uitvoerende burgemeester, Johan Allers, het hierdie week gesê Afriforum se besluit om weer hof toe te gaan oor die munisipaliteit se riooltariewe is voortydig, aangesien die munisipaliteit reeds na verskeie alternatiewe modelle kyk en tans besig is met die begroting vir 2025/2026.
“Ek verstaan hulle argument en stem heeltemal saam met Afriforum dat dit onbillik is om riooltariewe volgens die aantal toilette per huishouding te hef, en ek het al verskeie kere gesê dit moet verander, maar hoekom nou hof toe hardloop? Eintlik moet hulle net een van die openbare sessies waar die konsepbegroting nou aan die publiek voorgelê word, bywoon dan kry hulle ant- woorde.”
Allers se reaksie volg op ’n mediaverklaring van Afriforum wat verlede week uitgereik is. In die mediaverklaring sê Afriforum hulle bring ’n hersieningsaansoek in die hof teen Oudtshoorn- munisipaliteit oor die beleid waarvolgens die munisipaliteit riooltariewe hef.
Afriforum het reeds in 2021 die hof genader oor die beleid dat riool-tariewe bepaal word deur die aantal toilette per huishouding. Volgens Afriforum het die munisipaliteit versuim om aan ’n hofbevel van 2022 gehoor te gee waarvolgens die munisipaliteit opdrag gegee is om die beleid – wat uitstippel dat riooltariewe per toilet by huishoudings gehef word – aangepas moet word.
Marthinus Erasmus, distrikskoördineerder: Suid-Kaap AfriForum, sê die munisipaliteit het bloot die bewoording en nie die beleid verander nie.
Die aanvanklike be-leid se bewoording van 2020 was: “A fixed annual charge based on the number of toilets and urinals shall be charged for domestic users.”
Dit is in Junie 2024 verander na: “A fixed annual charge per plot, as well as an additional charge per water closet shall be charged for residential (domestic) users.”
Erasmus sê: “Hulle het verander, maar die bewoording (volgens ons interpretasie) is dieselfde as die vorige beleid. Dus, gaan ons weer hof toe vir ’n verklarende bevel en ’n hersiening van die huidige beleid. Sou ons suksesvol wees, moet hulle onmiddelik verander.”
Op ’n vraag of die proses reeds deur Afriforum begin is, sê Erasmus: “Besluit is reeds geneem, stukke is uitgereik en suksesvol beteken. Partye moet teen 6 Mei kennis gee van hulle voorneme om te opponeer.” Allers, het per e-pos en telefonies aan Die Hoorn gesê dat die munisipaliteit reeds sedert Desember 2024 daaraan werk om die tarief te verander. Hy het ook gesê dat die huidige tariewe deel is van die 2024 begroting.
“Tariewe kan slegs een keer per jaar verander word en dit is saam met die begroting. Ons werk sedert Des. 2024 daaraan. Die huidige begroting is ʼn konsepbegroting en gaan eers vir publieke deelname, so daar kom nog baie wysigings.”
Allers sê hy het in die media gelees van Afri-forum se voorneme om hof toe te gaan, maar dat hy nog geen kennisgewing van so ’n hofaansoek gekry het nie. (HANNES VISSER)
Burgemeester sê Afriforum is voortydig met hofaansoek
Johan Allers
Foto: Die Hoorn Argief