Die bekende en geliefde gewese eienaar van Adley House, Pieter Retief (81), is verlede Maandag, 20 November in Oudtshoorn ná ’n lang siekbed oorlede.
Retief was bekend vir sy liefde en versameling van klassieke motors.
Hy het in 1967 Oudtshoorn toe verhuis, en ’n gebou net buite Oudtshoorn (waar die huidige Caves Aftreeoord is) gehuur.
Dit was bekend as die Caves Motel en hy het dié plek vir die volgende 10 jaar bestuur.
Retief het ook talle ander besighede in Oudtshoorn besit en bestuur, onder meer die motorherstelwerkbesigheid, Piet Retief Motors.
Hy het ook by die Oudtshoorn Motorklub aangesluit en was vir onderskeidelik 10 jaar die ovaalbaankampioen en vir 13 jaar die klubpresident.
Hy het op die stadsraad gedien en was vir jare voorsitter van die Toerismeburo. Hy was vir 57 jaar ’n inwoner van Oudtshoorn.
“Oudtshoorn met al sy dinge was baie na aan my pa se hart. Ek het altyd gesê my pa dink hy skuld Oudtshoorn iets, hy wou net altyd iéts vir Oudtshoorn en sy mense doen,” het sy dogter, Liza aan Die Hoorn gesê.
Hy is in die vroeë oggendure by sy huis oorlede. Sy geliefde vrou Hilda was by hom. Hulle was 60 jaar getroud.
Retief word oorleef deur Hilda, sy kinders Liza, Johan, Helene, Peta-Dawn en Jaques. Hulle het sewe kleinkinders, Li-Mari, Paula, Mieke, Emily, Grace, Sarah en Henry en twee agterkleinkinders, Eben en Hardus.
Die begrafnis is Vrydag, 24 November om 15:30 by Adley House. (Deur Lindi Brill)