Bridgton swembad word tydelik gesluit weens onwettige optrede

Gemeenskapslede het die Bridgton Swembad bestorm en die hekke oopgebreek om toegang tot die swembad te verkry. Foto: Ebenezer Titus

DIE Groter Oudtshoorn Munisipaliteit het op 21 November noodgedwonge aankondig dat die Bridgton Swembad tydelik gesluit sal wees.

Ten spyte van die bykans R200 000 wat bestee is om die heining te herstel, het gemeenskapslede dit verlede week weer beskadig.

Sedert middel Oktober het ’n kommerwekkende patroon ontwikkel waar kinders onwettig die swembad binnekom deur oor die heining te spring en onwettige swemaktiwiteite uit te voer.

Die swembad, wat nog amptelik gesluit is, het dus geen lewensredders op diens gehad nie en dit het ’n gevaarlike situasie geskep.

Om ongemagtigde toegang te beperk, is sekuriteitswagte by die swembad geplaas, maar hierdie maatreëls was ook onvoldoende en tevergeefs.

Daar was selfs voorvalle waar amptenare met skerp voorwerpe gedreig is, en ander met voor-werpe soos klippe gegooi is.

Op Woensdag, 15 November, het sake dramaties geëskaleer toe sowat 300 kinders en volwassenes die swembad bestorm en die heining met geweld oop geforseer het.

’n Sekuriteitswag, wat nie kan swem nie, is in die swembad gegooi. Hy het later ’n beroerte gehad, moontlik van die skok.

Die traumatiese ervaring het daartoe gelei dat hy bedank het en tans werkloos is.

Nog ’n amptenaar teenwoordig by die swembad is ook geteiken met voorwerpe wat na hom gegooi is.

“Die Munisipaliteit veroordeel hierdie voorvalle ten sterkste, omdat dit gelei het tot geen ander opsie as om die swembad tydelik te sluit nie” het Aurelia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit in ’n mediaverklaring gesê.

Die situasie het nie net in wetteloosheid ontaard nie, maar bedreig ook die lewens en veiligheid van persone wat die swembad betree.

Die Munisipaliteit beskou die voorsiening van swemfasiliteite aan die gemeenskap as ’n noodsaaklike diens.

Die Bridgton Swembad, ’n Olimpiese standaard-fasiliteit, het verlede jaar opgraderings van meer as R3 miljoen ondergaan en beskik oor ’n moderne, gesofistikeerde pompstelsel.

“Dit is hartseer om te sien dat daar ’n gebrek aan waardering is vir hierdie gemeenskapsbates.

Ons doen ’n dringende beroep op die gemeenskap, veral ouers, om verantwoordelikheid te neem vir ons fasiliteite, dit te waardeer en te beskerm tot voordeel van almal en toekomstige geslagte”, sluit die verklaring af.

Die Munisipaliteit beoog om binnekort ’n aankondiging te maak oor die moontlike herope-ning van die Bridgton Swembad.

Kommentaar oor die voorval op Die Hoorn se Facebook-blad het gewissel van persone wat ook bekommerd is oor die moontlike verlies aan lewens omdat daar nie lewensredders aan diens was nie, die afbreek en vandalisme deur veral jongmense en kinders.

Ander se menings het weer verskil en hulle kommentare het gemeen dat inwoners van Bridgton kort ’n lafenis teen Oudtshoorn se skroeiende hitte.