Pieter Herandien oorlede

Pieter Herandien (links) saam met sy jarelange vriend, adjunk-prinsipaal Keith Meyer.

DIE onverwagse afsterwe Dinsdag (16 Augustus) van Pieter Herandien (67), jarelange afgetrede skoolhoof van Laerskool Towerkop, aan ’n hartaanval, was ’n groot skok vir die gemeenskap van Ladismith.

Herandien het in 2017 die tuig neergelê as Towerkop se hoof.

Opvoeders by die skool was hartseer en verslae, en die trane het vryelik gevloei.

Volgens Jeanette Herandien, die oorledene se vrou, was haar man eintlik baie gesond en was sy dood vir hulle ’n groot skok.

Keith Meyer, vir jare Herandien se adjunk-prinsipaal, was Herandien sowat 30 jaar lank prinsipaal en het hy meer as veertig jaar ervaring in die onderwys gehad.

Meyer het ook genoem dat Herandien `n Nasionale Onderwystoekenning ontvang het vir uitstaande leierskap in Primêre Skole.

Danie van Wyk, bekende in onderwyskringe, het sy medelye aan die familie en skoolgemeenskap uitgespreek.

Herandien was veral uitgesproke oor dwelmmisbruik in die gemeenskap het by geleentheid ’n optog teen dwelmmisbruik saam met ander prinsipale gelei.

Zelda Mentoor, nog ’n adjunk-prinsipaal by die skool en oud-leerder van Herandien, sê hy was ’n uitstekende opvoeder en taalpuris. “Ek het my liefde vir letterkunde by hom geërf,” het sy aangedaan gesê.

Herandien word deur sy vrou, vier kinders en ’n kleinkind oorleef. Die begrafnis word vir Saterdag, 27 Augustus, beplan. (Deur Deon Meyer)