Pastoor sê net hy praat die waarheid

“EK praat die waarheid. Ek alleen.”

So het past Stephanus Olivier (60) Dinsdag in die Oudtshoorn Streekhof geantwoord op ’n stel­ling van die staatsaanklaer, adv Michelle Weyers, dat hy nie die waarheid in die hof praat nie.

Olivier staan tereg op drie klagtes van ver­krag­­ting en vier van die seksuele aanranding van twee minderjariges in 2013 toe hulle onderskeidelik 13 en 14 jaar oud was, asook 30 klagtes van die besit van kinderpornografie.
Olivier pleit onskuldig.

Die laaste deel van sy kruisondervraging het gegaan oor pornografiese foto’s op sy rekenaar en ’n foto van ’n horlosie om sy arm waaroor sy kleinseun vroeër in die verhoor getuig het. Oli­vier het aangedui dat hy van die detail nie ont­hou nie.

Volgens hom het die kind se pa die horlosie in 2012 uit Irak gebring en het dit baie lank ge­lede weggeraak. Op ’n vraag van Weyers of daar perdjies op die horlosie was soos sy kleinseun getuig het, het Olivier getuig dat hy nie kan ont­hou nie.

“Ek onthou nie al die detail van die horlosie nie. Dis baie lank gelede,” het hy gesê.

Op nog ’n stelling van Weyers dat hy wel sy regsverteenwoordiger daaroor ingelig het, het hy geantwoord: “As ek dit gesê het, was dit na die beste van my geheue, maar in hierdie stadium kan ek dit nie onthou nie.”

Olivier het meer as een keer, en baie driftig, Weyers gevra wat die vraag is, soveel so dat streekland­dros Daniel Boks moes intree en hom versoek het om net die vrae te beantwoord.

Weyers het Olivier gevra om nie so aggressief te wees nie.

Oor die foto’s op sy rekenaar het Olivier getuig dat hy nie weet hoe dit daar beland het nie en sy kleinkind en sy ma as die skuldiges uitgewys. Volgens hom het die kind se ma hom soos die duiwel gehaat en hom om elke hoek en draai gedreig en afgepers.

Boks het die saak tot 5 Oktober uitgestel vir die ondervraging van getuies wat die verdediging wil roep.

Olivier se borgtog van R10 000 en borgvoorwaardes is tot dan verleng. (Deur Garnett Wicomb)