Die raad tree wettig op, sê burgemeester Donson

Die Groter Oudtshoorn se nuwe burgemeester, Vlancio Donson. Foto: Liesel le Roux

DIE raad van die Groter Oudtshoorn het binne sy mandaat opgetree deur Walter Hendricks Maandagmiddag by ’n spesiale raadsvergadering as waarnemende munisipale bestuurder aan te stel, sê die nuwe burgemeester van Oudtshoorn, Vlancio Donson.

Hendricks, ’n voormalige direkteur gemeenskapsdienste op Oudtshoorn en op George, is met onmiddellike effek in dié pos aangestel vir ’n periode van tot drie maande.

Donson het geageer op ’n navraag van Die Hoorn oor die wettigheid van die aanstelling van Hendricks in die lig van ’n onlangse hooggeregshofbevel van regter Nathan Erasmus.

Erasmus het op 10 September beveel dat die status quo ten opsigte van die aanstelling van die poste van munisipale bestuurder en direkteure moet geld totdat hy uitspraak gee oor ’n hersieningsaansoek van die munisipaliteit oor die kwessie.

Donson sê egter Erasmus se uitspraak is gedoen in reaksie op ’n hofaansoek van die vorige raad.

“ ’n Nuwe raad is gevorm en dié raad voer sy grondwetlike mandaat uit en tree daarom nie in stryd met die wet op nie,” het hy gesê.

Donson het voorts aangedui dat hy later sal reageer oor moontlike optrede teen raads­lede wat nie tans raadsvergaderings bywoon nie asook oor die samestelling van ’n burgemeesterskomitee.

Teen Dinsdag het Donson nog nie ’n burgemeesterskomitee saamgestel nie.

Volgens inligting het 13 raadslede Maandagmiddag se spesiale raadsverga­dering bygewoon waar die besluite geneem is.

Die vergadering was aanvanklik vir die oggend om 09:00 belê, maar is uitgestel toe daar nie genoeg raadslede teen­woordig was nie.

Reginald Smit het na die aanstelling van Hendricks teruggekeer na sy pos as direkteur kor­poratiewe dienste, terwyl Luyanda Fatuse in die plek van Deon Vi­sagie aangestel is as waarnemende direkteur gemeenskapsdienste.

Daar is heelwat omstredenheid rondom Hendricks. Hy staan tans saam met onder meer Trevor Botha, voormalige munisipale bestuurder van George, en Mel­vin Naik, voormalige burgemeester van George, tereg op aanklagte van be­drog en korrupsie in verband met Naik se “War on Waste”-projek toe hy burge­mees­ter was.

• Die Oudtshoorn Gemeenskap Inisia­tief (OGI), ’n gemeenskapsbeweging wat aan die komende munisipale tussenverkiesing gaan deelneem, het intussen Maandag se raadsbesluite en die partye daarby betrokke skerp op hul Facebookblad gekritiseer.

Hulle bestempel die aanstelling van Hendricks as onwettig en kritiseer die ANC so vir hul betrokkenheid: “Die stemme van nege ANC -raadslede maak dit moontlik vir slegs twee partye om die uitvoerende bestuur van die raad te word. Met hierdie steun van die ANC word Oudtshoorn Munisipaliteit ’n wanfunksionerende uitvoe­rende bestuur waarvan slegs die posisies van burgemeester (Icosa), onderburgemeester (Sarco) en speaker (Icosa) die dorp sonder enige Mayco-lid bestuur.

“Die stert swaai nou weer as gevolg van die ANC-besluit die kat rond.”

OGI vra ook vrae oor wie die moontlike hofkoste gaan betaal wat uit die aanstelling mag spruit.
’Die hoofsweep van die ANC, Jongelizwe Tyatya, het aangedui dat hy later die week hierop en op vrae van Die Hoorn sal reageer.

• Ook die DA se Chris Macpherson, die Groter Oudtshoorn se vorige burgemeester, het sy kommer uitgespreek oor die gevolge van Maandag se aanstellings en koste wat dit mag meebring.

Macpherson het aangedui dat hy die raadsbesluite onder die aandag van die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, en die DA sal bring en hulle sal vra vir verdere optrede.

Macpherson het verlede week gesê DA-raadslede woon nie die raadsvergaderings by waar die agenda teenstrydig is met die hofbevel van regter Erasmus nie.

Volgens hom wil die party nie deel wees van onwettige vergaderings wat strydig is met ’n hooggeregshofbevel nie. (Deur Liesel le Roux)