DIE vyf politieke partye in die Groter Oudtshoorn-raad, die DA, ANC, Sarco, Icosa en EFF, het inwoners in ’n gesamentlike verklaring gevra om saam te werk ter wille van vrede en stabiliteit in die dorpe in die munisipaliteit. Die verklaring het gevolg op verlede week se geweld en plundery in KwaZulu-Natal en Gauteng.
In die verklaring vra die vyf partye inwoners van Oudtshoorn, Dyselsdorp, De Rust en die omliggende landelike gebiede om seker te maak hulle stuur nie fopnuus aan nie omdat dit ’n strafbare oortreding is.
Die partye spreek hul waardering uit vir die werk van wetstoepassers, buurtwagte, die privaat- sekuriteitsbedryf, gemeenskapsveiligheidsbeamptes en plaaswagte om wet en orde te handhaaf, en onderneem om saam met inwoners te werk as verkose raadslede en openbare verteenwoordigers om wet en orde te handhaaf, die nodige leierskap te bied om kalmte te skep en privaat-, openbare en munisipale eiendom te beskerm.
“Ons doen ook ’n beroep op al ons geloofsleiers in die Groter Oudtshoorn om ons te lei in gebed vir vrede en stabiliteit in ons land, provinsie en munisipaliteit.
Die verklaring is onderteken deur die hoofswepe van die DA (Hendrik Botha), ANC (Jongelizwe Tyatya) en Sarco (Gaven Juthe, namens Sarco, Icosa en die EFF), asook speaker Julia le Roux. (Deur Liesel le Roux)