Sara van Rooi (voor, in die middel) en ‘n paar lede van die Prins Albert Vastrappers. Foto: Marlene Malan
Deur Marlene Malan
DIE Prins Albert-tak van die ATKV is by die pas afgelope nasionale Algemene Jaarvergadering (AJV) van die organisasie by die Klein Kariba-oord by Bela-Bela vereer vir sy rol in die ontwikkeling en steun van die rieldansgroep, die Prins Albert Vastrappers.
Die Vastrappers is byna vier jaar gelede deur die voorsitter van dié tak, Denise Ohlson, en die liedjieskrywer, sanger, dansafrigter en koorleier Sara van Rooi, gestig. Sedertdien het die dansers van krag tot krag gegaan en einde verlede jaar in die jaarlikse nasionale rieldanskompetisie by die Taalmonument in die Paarl as een van die topgroepe geëindig. Van Rooi het hier ook ’n prys vir “beste liedjie” gewen en het vanjaar ’n ATKV-kursus in die skryf van lirieke voltooi. Die groep tree deesdae gereeld by kunstefeeste, skoue en private geleenthede op.
Volgens Sonél Botes, besturende direkteur van die ATKV, is die Prins Albert-tak in die kategorie “kunste” vereer vir “sy volgehoue ondersteuning aan die rieldansgroep Prins Albert Vastrappers, ’n kunste-projek van hoë gehalte”.
Ohlson het aan Die Hoorn gesê die Vastrappers het in die kort tydjie sedert die groep se vestiging al 17 bekers losgedans, waaronder die Grietjie van Garies-wisseltrofee vir 2018. “Deur die jare het ek as voorsitter van ons dorp se ATKV-tak stewig betrokke gebly. Nog ’n inwoner, Ingrid Wolfaardt, en die Prins Albert Gemeenskapstrust het die Vastrappers onder hul vleuels geneem, en ons hele gemeenskap het Sara en die dansers gul omarm. Die Van Hasselt-gesin van Prins Albert verdien spesiale vermelding vir hul steun, so ook Anton Koning wat deesdae in Amerika woon, en wat nog elke jaar ’n reuse- geldelike bydrae gemaak het.”
Van Rooi het oor die verering van die plaaslike ATKV-tak gesê: “Die ATKV Prins Albert is nou maar ook net die beste. Ek is opgewonde oor dié erkenning op nasionale vlak van ons tak en die rieldansers.”