’n Groep straatkinders verlede Woensdagaand na 19:00 in Voortrekkerweg, Oudtshoorn; die meeste met bottels in die hand. Een van die kinders was sigbaar erg bedwelm en kon skaars praat. Foto Angelique Erasmus
Deur Angelique Erasmus
INWONERS van Oudtshoorn kla dikwels dat dit vir hul voel of die dorp “gyselaar” gehou word deur die optrede van straatkinders.
Voeg hierby ’n ingewikkelde stelsel om dié kinders by te staan en ’n gebrek aan hulpbronne, en dit is verstaanbaar waarom sosiale media oorloop van klagtes met vingers wat in alle rigtings gewys word.
En terwyl vergaderings plaasvind en petisies opgestel en oorhandig word, word die straatkindprobleem op die dorp oënskynlik net groter.
Die Hoorn het die afgelope vier weke gesels met Dennis Nghonyama, bestuurder op Oudtshoorn van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling; Eunice Strydom, die ACVV se streek- bestuurder; Shannon Claassen, maatskaplike werker by Kindersorg; kapt Wynand du Plessis, bevelvoerder van Sektor 3 (middedorp ingesluit); en Pat Jordaan, verkeershoof en hoof van wets-toepassing by die Oudtshoorn Munisipaliteit.
Verskillende organisasies betrokke
Die eerste belangrike ding waarvan inwoners moet kennis neem (en wat die hele aangeleentheid ingewikkelder maak), is dat verskillende kinderbeskermingsorganisasies op die dorp verantwoordelik is vir verskillende dele van die dorp.
Die Departement Maatskaplike Ontwikkeling is verantwoordelik vir kinders wat in Toekomsrus, Rosevalley en Bongolethu bly; Oudtshoorn Kindersorg is verantwoordelik vir kinders in Bridgton en die omliggende plase; en die ACVV vir kinders in Oudtshoorn se middedorp, Smartie Town, ook Bridgton asook omliggende plase sover as Zebra op die George-pad, Mooihoek op die Mosselbaai-pad, Rooiheuwel en Stolsvlakte, asook op Dysselsdorp, De Rust en Calitzdorp.
Die drie instansies mag nie self die strate invaar nie, maar hul mandaat begin eers wanneer ’n kind deur die Polisie of wetstoepassers vir hulle gebring of by hulle aangemeld word, of wanneer die publiek ’n saak by hulle aanmeld. Die kinderwet stel spesifieke vereistes wat nagekom moet word indien kinders aangemeld word, asook voorwaardes vir die verwydering van kinders.
Wanneer die publiek ’n kind op straat by enige van die drie instansies wil aanmeld, moet hulle die kind se naam en van, sowel as adres by die kind probeer uitvind. Inwoners word ook versoek om nie net te bel en dan te loop nie, omdat die kinders dan gewoonlik verdwyn het teen die tyd wat iemand hul kom haal.
Dit wil voorkom of die meeste kinders smiddae dorp toe kom wanneer hul klaar is met skool. Kinders wat soggens op straat is, kan aan die Polisie of wetstoepassers aangemeld word.
Kinders hieroor op straat
Daar is volgens betrokkenes verskeie faktore wat daartoe bydra dat ’n kind hom of haar op straat bevind.
Enige vorm van kinderverwaarlosing is ’n vorm van kindermishandeling en moet so gou moontlik aan enige van die bogenoemde instansies gerapporteer word.
Rolspelers praat van stoot- en trek-faktore.
Stootfaktore is byvoorbeeld as kinders nie kos kry by die huis nie, of nie deur hul ouers versorg word nie (as ’t ware verstoot word) en straat toe gaan om kos of geld in die hande kry.
Kinders wat kos in die dorp ontvang wat hul nie by die huis ontvang nie, gaan aanhou dorp toe kom daarvoor.
Trekfaktore is byvoorbeeld wanneer kinders dorp toe kom vir geld om ’n dwelmprobleem te onderhou (en dan vasgevang kan word in bendebedrywighede en later geen ander keuse gelaat word nie).
Nog ’n oorsaak is dat kinders nie in die middae na skool besig gehou word met programme of sport nie, en dorp toe kom uit verveling. Hier maak hulle dan dikwels kennis met dwelms soos petrol of gom wat maklik verkrygbaar is, en ook dagga en tik. Die middels word in meeste gevalle deur volwassenes aan die kinders verskaf.
Uitdagings
• Nghonyama sê daar is ’n dringende behoefte aan programme vir middelmisbruik en gedrags-verandering. Volgens hom moet mense versigtig wees om kinders te nader, veral nie in die middae nie wanneer hulle dikwels onder die invloed van dwelmmiddels en baie aggressief is. Hy sê ook baie kinders het tuisgemaakte wapens by hulle en beveel aan dat die Polisie eerder in so ’n geval geskakel moet word.
• Strydom sê: “Kinders ervaar vryheid op straat. In baie gevalle raak hul verslaaf aan dwelms en word dan in hul omstandighede vasgevang. Ons sukkel om plasings vir kinders te kry wat programme moet ondergaan omdat daar niks in die area beskikbaar is nie.”
Plekke soos Huis Triomf is slegs ’n kinder- en jeugsorgsentrum. Hulle kan wel programme aanbied vir kinders met gedragsprobleme, maar is nie toegerus om dwelmprobleme aan te spreek nie.
Kinders op straat wat na Huis Triomf verwys word, dros ook gereeld en keer terug straat toe.
• Claassen sê daar is ’n tekort aan pleeg- en veiligheids- (tydelike) ouers.
Sy sê straatkinders kom ook dikwels uit gesinne waar daar baie onkunde heers met kinders wat swanger raak en kinders van hul eie het en nie weet hoe om na hulle om te sien nie. Gesinstrukture en morele waardes is baie vervalle.
• Du Plessis sê hoewel kinders sover moontlik in ongemerkte voertuie vervoer moet word, belet die wet nie die Polisie om kinders in polisievoertuie te laai nie.
“Ons ondervind dat baie van die kinders wat ons oplaai, nie by die huis wil wees nie omdat hul nie die nodige sorg by hul ouers kry nie. Daar was al gevalle waar die ouers aan ons gesê het hul soek nie die kinders daar nie omdat hul die huis ont-wrig. Dis ’n hartseer situasie,” sê hy.
Hy raai besigheidsmense en inwoners aan om hul oë oop te hou en sekuriteit oral op te skerp.
“Maak dit moeilik vir dié kinders om ’n perseel te betree om te steel.”
• Jordaan sê ’n kind onder die ouderdom van 10 jaar is volgens wet nie krimineel vatbaar nie. “Kinders wat met bottels rondloop, moet nie deur die publiek gekonfronteer word nie. Bel dadelik die Polisie of selfs die beheerkamer en meld dit aan.”
Hulpbrontekorte en ander probleme
Die volgende probleme is deur almal met wie ons gepraat het, genoem:
• ’n Tekort aan hulpbronne soos vervoer, finansies en mannekrag;
• Stelsels wat die proses vertraag (bv plasings waar kinders programme moet doen);
• Kinders wat jonger lyk as wat hulle is en buite die mandaat van die kindersorginstansies val;
• Kinders wat jok oor hul name en adresse;
• Kinders wat smiddae dorp toe kom omdat hul geen stimulasie kry na skool nie;
• Mense en besighede wat aan kinders kos en geld gee, en hulle so dorp toe lok;
• Mense wat eerder op sosiale media oor pro-bleme met kinders skryf as om gevalle by die Polisie aan te meld.
Belangrike nommers
Maatskaplike Ontwikkeling, die ACVV en Kindersorg is oop tussen 08:00 en 16:00, maar kinders kan te alle ure by die Polisie gerapporteer word.
Kontaknommers: • Departement van Maatskaplike Ontwikkeling: 044 272 8977. • ACVV: 044 272 7603. • Oudtshoorn Kinder- en Gesinsorg: 044 279 2837. • SAPS: 044 203 9000 / 082 522 3226.
• Munisipale wetstoepassing: 044 203 7800 / 044 203 3121.