Seun vertel van angsnag toe man familie met hamer aanval, kind aanrand

DIE oupa van ’n 11-jarige meisie van Bridgton wat haar gered het uit die kloue van ’n aanvaller en in die proses self aan­gerand is, sou Woensdag (21 Oktober) uit die Oudtshoorn Hospitaal ontslaan word.

Volgens Nadia Ferreira, woordvoerder van die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid in die Tuinroete-distrik, was die man se toestand gister stabiel en sou hy daarom moontlik ontslaan word.

Die oupa is vir ernstige kopwonde aan sy kop behandel nadat hy sy kleindogter se aanvaller die nag van 4 Oktober betrap het, en die aanvaller hom drie keer met ’n hamer oor die kop geslaan het.

Hy is weens die erns van sy beserings na die George Hospitaal en later ook die Grootte Schuur Hospitaal in Kaapstad oorgeplaas vir behandeling, waarna hy weer teruggeplaas is Oudtshoorn toe.

Die aanvaller was op parool vir vorige misdrywe toe hy op 5 Oktober op Oudts­hoorn in hegtenis geneem is vir aanklagtes van die seksuele aanranding van ’n minderjarige, asook aanranding om ernstig te beseer en huisbraak. Hy mag nie geïdenti­fiseer word voordat hy in die hof pleit nie.

Hy het reeds op 7 Oktober in die Oudts­hoorn Landdroshof verskyn, waar­na die saak uitgestel is vir verdere ondersoek. Hy is in aanhouding en verskyn weer op 4 November in die hof.

• Die oupa se seun het vandeesweek aan Die Hoorn van hul angsnag vertel, en van die oomblik toe hy die hamer uit die hande van die aanvaller wat hom en sy familie aangeval het, kon beetkry.

“Ek het gedink: Nou het ek die hamer, nou kan ek hom ook slaan. Maar toe dink ek by myself: Ek is nie so grootgemaak nie.”

Die familie woon in ’n huisie naby die Bridgton Sportgronde, in ’n woonbuurt wat rustig en mooi lyk. Die seun vertel dat hulle baie dankbaar was toe hulle hul huisie sowat vier jaar gelede by die staat gekry het nadat hulle jare lank van plek tot plek rondgeswerf het.

Misdaad in die omgewing is egter nie vreemd nie. Die hele heining voor hul huis is byvoorbeeld reeds weggesteel.

Die seun sê die aanval die nag op hul gesin was skrikwekkend. Hy sê nadat die aanvaller sy pa verskriklik erg teen sy agterkop begin slaan het, het hy besef hy nie kan toelaat dat sy familie doodgemaak word nie en het hy begin baklei om die hamer van die man af te neem.

Hy het sy dank teenoor al die dokters wat sy pa behandel het, uitgespreek.

• Die oupa en sy seun se name word weerhou om die identiteit van die minderjarige wat aangerand is, te beskerm. (Deur Liesel le Roux en Stefan Skapie Goosen)