Deur Stefan Skapie Goosen
IN 1965 is die beendere van ses steeds onbekende mense opgegrawe op die bouterrein van die Hoërskool Oudtshoorn. Dié beendere word volgende week, op Donderdag 29 Oktober – 55 jaar later – uiteindelik op Oudtshoorn ter ruste gelê.
Die skool is daardie tyd gebou op die plek waar een van Oudtshoorn se mooiste en bekendste volstruispaleise, The Towers, gestaan het.
Die storie van die beendere is steeds ietwat van ’n misterie. Inligting daaroor is beperk tot ’n enkele uitknipsel uit ’n Oudtshoorn Courant van Oktober 1965.
Volgens Moses Mthethwa, bestuurder van die CP Nel Museum op Oudtshoorn, is inwoners hartlik welkom om die herbegrafnisseremonie by te woon om 10:00 in die museum se Rembrandtsaal.
Luidens die 1965-berig is die beendere van ses mense deur boukontrakteurs opgegrawe terwyl hulle besig was met uitgrawings vir die skoolgebou.
Die beendere is sowat 1,2 m onder die grond gevind.
Volgens die berig was die beendere toe al waarskynlik ouer as 100 jaar uit die tyd toe Oudtshoorn steeds ’n plaas was, en was daar moontlik voorheen ’n klein begraafplaas op die plek waar gegrawe is.
Vyf van die geraamtes is as moontlik swart (non European) geïdentifiseer, met een moontlik van Europese afkoms. Laasgenoemde is in ’n kiaathoutkis begrawe – wat met die uitgrawing reeds verbrokkel gevind is – met ’n “perfek bewaarde skedel, stel tande, ruggraat en ribbes”.
Volgens Mthethwa is die beendere na die opgrawing deur medici gebruik vir navorsingsdoeleindes, en in die tagtigerjare aan die museum geskenk.
Uit die ses geraamtes is daar volgens hom slegs drie skedels, ’n kakebeen en ’n gedeelte van een geraamte oor wat begrawe sal word.
• Weens Covid-regulasies sal die getal mense wat die seremonie bywoon, beperk word. Dit sal regstreeks uitgesaai word op Eden FM en die museum se Facebook-blad.