Klagtes teen Oudtshoorniet maak wêreldwyd opslae

Klagtes wat die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) teen ’n onderwy­ser van Oudtshoorn aanhangig gemaak en weer teruggetrek het, het sedert verlede week landwyd en selfs in die buiteland opslae gemaak met onder andere die BBC wat ook daaroor berig het.

Glen Snyman, ’n onderwyser by Grootkraal UCC Primêr, is aangekla van bedrog en wangedrag omdat hy in 2017 in ’n aansoek vir ’n skoolhoofpos die blokkie gemerk “African” afgemerk het. Dit het die WKOD gepla omdat Snyman volgens hulle bruin (“Coloured”) is.

Snyman, wat ook die stigter is van die drukgroep PARC (People Against Race Classification) is gekant teen rasseklassifikasie en het in Oktober 2019 ’n saak by die Arbeidshof aanhangig gemaak vir die verwydering van die rasseklassifiseringsblokkies op vorms.

Die Menseregtekommissie het Dinsdag (19 Oktober) ’n verklaring uitgereik dat ook hulle ’n klagte ontvang het oor die kwessie. “Die kommissie is tans besig om die klagte te beoordeel en vas te stel of die gebruik van apartheids-rasseklassefikasie as ’n menseregte-oortreding bestempel kan word,” lui die verklaring onder meer.

Snyman is van mening dat apartheid nog in Suid-Afri­ka se wette in die vorm van die rasseklassifise­ringsblokkies be­staan.

Hy glo dat Suid-Afrikaners hul teenstand teen rasseklasifikasie te kenne kan gee deur die “African”-blokkie te merk wanneer hulle ras gevra word. PARC het ’n spotprent ontwikkel om dit te demonstreer.

Snyman se tugverhoor was vir verlede Woensdag geskeduleer. Die klagtes teen hom is dieselfde dag teruggetrek.

Die Wes-Kaapse minister van onderwys, Debbie Schäfer, het verlede Donderdag in ’n persverklaring haar skok uitgespreek oor die klagtes van haar departement teen Snyman en het haar daarvan gedistansieer. Volgens haar het sy eers Woensdag daarvan verneem.

“Een van die groot euwels van apart­heid was die klassifikasie van mense volgens hul sogenaamde ras. Baie mense het geveg om hiervan ontslae te raak. Ek was verstaanbaar geskok om uit te vind dat my departement iemand aangekla het op grond van hoe hy kies om homself te klassifiseer.

Ons sal nie die vikitimisasie van mense wat nie konformeer met ’n kuns-matige en arbitrere klassifikasie verdra nie,” het Schäfer onder meer gesê.
Snyman mag nie met die media praat voordat hy die groen lig daarvoor van die WKOD kry nie. (Deur Liesel le Roux)