OUDTSHOORN het vir die tweede agtereenvolgende week die meeste aktiewe Covid-19-gevalle per 100 000 inwoners in die Wes-Kaap en dus ook in die Tuinroete-distrik.
Teen Woensdag (16 September) het Oudtshoorn 147,8 positiewe gevalle per 100 000 inwoners aangeteken, terwyl George – die grootste munisipaliteit in die Tuinroete – 60 gevalle per 100 000 inwoners gehad het.
Die goeie nuus is egter dat die aantal aktiewe gevalle in Oudtshoorn en elders in die Tuinroete-distrik net soos elders in die provinsie besig is om te daal.
Volgens Nadia Ferreira, woordvoerder van die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid in die Tuinroete, kan Oudtshoorn se getal aktiewe gevalle toegeskryf word aan die feit dat dié munisipaliteit ’n bietjie later sy Covid-piek bereik het as die gemiddelde sub-distrik in die Tuinroete en elders in die provinsie.
“Soos met van die ander sub-distrikte ondervind mens pockets waar infeksies uitbreek,” sê Ferreira. “Gesondheidspersoneel besoek dan hierdie areas vir voortdurende monitering.”
Ferreira beklemtoon dat die bekamping van Covid-19 almal se verantwoordelikheid is, en elke individu ’n rol hierin speel.
“Ons wil ook dankie sê vir al die rolspelers, veral die SANW wat tans in Oudtshoorn ons bystaan met Covid-bewusmaking en -sifting.”
• Oudtshoorn se Covid-dodetal het Woensdag op 84 gestaan.
Die totale aantal mense (bevestigde gevalle) op Oudtshoorn wat al positief getoets het vir Covid-19 het Woensdag op 1 355 gestaan, met 1 132 mense wat reeds herstel het, en 139 aktiewe gevalle.
Kannaland het tot dusver een sterfte gehad, met ’n totale aantal bevestigde gevalle van 110 gevalle, 109 mense wat reeds herstel het, en geen aktiewe getalle nie.
• Die sterftesyfer op ander dorpe in die Tuinroete lyk soos volg: George – 109, Mosselbaai – 64, Knysna – 48, Bitou – 14 en Hessequa – 16. (Deur Stefan Skapie Goosen)