Inbrake gaan voort ondanks aandklokreël

Christa’s Skoonheid en Haarkliniek se perseel soos dit binne deur inbrekers gevandaliseer is. Foto verskaf

COVID-19-REGULASIES en die huidige aand­klok­reël wat tans in werking is, het oënskynlik geen uitwerking op inbrake in die Groter Oudts­hoorn nie, met geen strafbepaling vir oortreders nie. Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, beteken dit dat niemand wat na 22:00 op straat is aangekla of in hegtenis geneem kan word.

Sake-eienaars en inwoners op Oudts­hoorn sê dit skep ’n geleentheid vir inbrake by besighede en huise, soos by Christa’s Skoonheid en Haarkli­niek in St Saviourstraat wat die nag van 9/10 September deurgeloop het. Volgens Visser is haar­- produkte en bykans R25 000 se kontant ge­steel.

’n Ontstelde Christa Bower, eienaar, sê die inbrekers het boonop nie net gesteel nie, maar haar perseel erg gevandaliseer. Dit is die eerste keer in 38 jaar dat daar by haar perseel ingebreek is. “Dis onnodige beskadiging van eiendom. Ek het dit nog nooit in my 38 jaar gesien dat mense so kan wees nie.”

Ons sal iets moet doen. Hulle het tot ’n sak leeggemaak om goed in te gooi en weg te dra,” het sy hoogs-ontsteld aan Die Hoorn vertel.

Christa sê dat die diewe tot die kragtoevoer van haar twee persele, wat reg langs mekaar is, afgeknip het.

“Dis baie hartseer. Ons moes heeldag skoonmaak en kon geen kliënte sien nie.

“Die goue naald van my micro needling-toestel is ook afgebreek, en ek is al een wat so iets op die dorp doen. Daar was baie skade,” sê Christa.

Hulle was op 11 September weer oop vir besigheid.

Volgens Visser is hierdie inbraak en die feit dat dit na die aandklokreël plaasgevind het egter nie ’n aanduiding dat inbrake op die dorp toegeneem het nie.

“Ongelukkig mag ons nie statistiek bekend maak nie, net die minister van polisie maak statistiek bekend. Wat ek wel kan sê, is dat sake gedurende Augustus en September gelykstaande is aan die sake wat in dieselfde tyd verlede jaar aangemeld is,” sê Visser.

Hy sê die gebied waarin die mees­te voorvalle die laaste tyd voor­kom, is die sentrale sakekern.

• Volgens Visser is ’n positiewe stap in die dorp tans dat die polisie en sekuriteitsmaat­skappye baie goed saamwerk ten opsigte van die bekamping van misdaad.

Die polisie en sekuriteitsmaat­skappye het verlede Woensdag (9 September) vergader om misdaad en gemeenskaplike belange te bespreek, terwyl daar sowat ’n maand gelede reeds ’n WhatsApp-groep begin is waar almal op ’n daaglikse basis kommunikeer.

“Die maatskappye beweeg orals rond en verskaf waardevolle inlig­ting wat help om misdaad hok te slaan en kan lei tot arrestasies van misdadigers.

Die SAPD is bevoorreg om sulke goeie samewerking te kry van die maatskappye en wil hulle bedank vir die bydrae wat hulle lewer tot die bekamping van misdaad,” sê Visser. (Deur Stefan Skapie Goosen)