’N AANSOEK van Magdaleen (Mag- gie) Titus (43) om teen haar skuldigbevinding en vonnis te mag appelleer is gister (Woensdag 16 September) in die Kaapse Hooggeregshof geweier.
Magdaleen is op 3 Maart vanjaar in die rondgaande hooggeregshof op Oudtshoorn tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis vir die moord op haar man, Preston Titus.
Haar aansoek om verlof tot appèl is deur regter Robert Henney geweier.
Die verhoorregter, Nolwazi Mabindla-Boqwana, wat as gevolg van ander verpligtinge nie die aansoek om verlof tot appèl kon aanhoor nie, het tydens Titus se verhoor bevind dat sy die meesterbrein agter die beplanning van haar man se moord was en haar as ’n groot leuenaar beskryf. Sy het met vonnisoplegging gesê Titus toon geen berou en aanvaar nie verantwoordelikheid vir haar optrede nie. Titus is ook drie jaar gevangenisstraf opgelê vir dwarsboming van die gereg.
Preston Titus is op 1 Desember 2017 in sy huis op Oudtshoorn met messe en ’n hamer vermoor. (Deur Liesel le Roux)