Nasionale Vervolgingsgesag kry hofbevel vir beslaglegging op egpaar se bates

DAAR gaan beslag gelê word op die bates van Marthinus en Johanna Rabie van Oudtshoorn nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) ’n hofbevel bekom het om ’n kurator aan te stel.

Die egpaar staan tereg op 34 klagtes van bedrog waarby miljoene rande betrokke is, maar pleit onskuldig.

Die staat beweer dat Marthinus Rabie, ’n voormalige tegnikus in diens van die Wes-Kaapse Departement van Landbou by die Oudtshoorn Proefplaas, sy vrou se twee beslote korporasies, Attaqua en Gwaiing Ontwikkelings, tussen 2006 en 2008 bevoordeel het met die toekenning van tenders.

Marthinus Rabie ontken dat hy fisiek betrokke was by projekte van sy vrou.
Die NVG het Alon Kowen van Pure Capital as kurator aangestel wat nou beslag kan lê op die egpaar se bates.

Indien die staat suksesvol is met ’n skuldigbevinding sal die eiendom waarop beslag gelê is, verkoop en die opbrengs in die Kriminele Bateherwinningsrekening (CARA), ’n spesiale rekening binne die Nasionale Inkomstefonds (NRF), inbetaal word. Indien die staat onsuksesvol is, sal die bates aan die beskuldigdes terugbesorg word.

Die saak word deur streeklanddros Daniel Boks aangehoor en is tot 9 Oktober uitgestel nadat hulle ’n nuwe regsman, Henry van Breda, aangestel het. Die Rabie-egpaar is uit op waarskuwing. (Deur Garnett Wicomb)