DIE bekende en dinamiese sakevrou van Oudtshoorn, Paunielle Rhodes, het pas teruggekeer van Johannesburg waar sy aagewys is as een van die top-100 in vanjaar se Mev Suid-Afrika-kompetisie.
Paunielle het in 2017 vir die eerste keer ingeskryf vir dié kompetisie, maar nie verder as die eerste ronde gevorder nie. “Ek het in 2018 en 2019 besluit om nie weer in te skryf nie, maar vanjaar het ek gevoel ek is reg om weer te probeer,” sê sy.
Verlede Vrydag het 140 hoopvolle vroue aan die beslissende ronde by die Menlyn Park-inkopiesentrum in Pretoria deelgeneem. Hier is 100 vroue gekies wat in Junie aan die semi-finaal sal deelneem.
“Ons het daarna ’n werkswinkel oor drie dae by Emperor’s Palace in Johannesburg bygewoon. Dit was so mooi en ’n belewenis, ek het skoon vergeet om foto’s te neem van die omgewing,” vertel sy laggend.
Volgens Paunielle is die kriteria van die Mev Suid-Afrika-kompetisie nie so streng soos vir Me. Suid-Afrika nie, waar daar ’n lengte- en gewigbeperking is.
Enige getroude Suid-Afrikaanse vrou onder die ouderdom van 50 kan aan die Mev SA-kompetisie deelneem.
“Hierdie is nie ’n skoonheidskompetisie nie, maar eerder ’n platform waar getroude vroue, wat meestal werk en kinders het, hulleself weer kan vind.”
Sy is glad nie ’n vreemdeling as dit by skoonheidskompetisies kom nie.
Sy het in 2008 op 24-jarige ouderdom aan die eerste Mej Pearl-kompetisie in Knysna deelgeneem en gewen. “Ek was destyds bevoorreg genoeg om die verhoog met Demi-Leigh Nel-Peters, ’n voormalige Mej Suid-Afrika en Mej Heelal, te deel. Sy was Mej Junior Pearl.”
Paunielle is nie net ’n bedrywige sakevrou nie, maar ook die ma van twee kinders, ’n agt- en vyfjarige. Sy en haar man, Wesley, is vanjaar 10 jaar getroud. Hulle besit die klerewinkel Your Wardrobe op die dorp.
Sy is die voorsitter van die nie-winsgewende organisasie Mercy Care op Oudtshoorn, wat vroue bystaan wat onbepland swanger raak, ’n miskraam het, aan depressie ly of mishandel word.
Sy is ook ’n aanbieder by ’n plaaslike radiostasie en gee Sondagskoolklasse vir die graad 4-kinders by die Assembly of God-kerk in Bridgton.
“Ek is steeds sprakeloos, maar ongelooflik opgewonde en trots om gekies te wees vir Mev Suid-Afrika.
“Ek sien uit na die volgende ronde, wat weer in Gauteng gehou sal word.” (Deur Angelique Erasmus)