Huldeblyke stroom in vir Wendy Prins

Wendy Prins (52). Foto verskaf

SY het sedert haar 17de jaar as politieke aktivis onwrikbaar vir geregtigheid en teen apartheid geveg. Sy is as tiener in hegtenis geneem en vir ses maande sonder verhoor in die gevangenis aangehou. Daarna het sy as regsgeleerde verskeie belangrike betrekkings beklee en tot in 2019 as senior regsadviseur in die kantoor van die premier van die Wes-Kaap gewerk.

Saterdag moes Oudtshoorn van dié merkwaardige vrou, Wendy Prins (52), afskeid neem.

Wendy is op 18 Februarie in die huis van haar ma, Mina Prins, in Oudtshoorn oorlede nadat longkanker by haar gediagnoseer is en dit later versprei het. Sy het die laaste maande van haar lewe op Oudtshoorn deurgebring.

Tydens ’n aangrypende huldeblyk by die begrafnisdiens wat Saterdag in die Volkskerk van Afrika in Bridgton gehou is, is vertel onder watter taai omstandighede Wendy as tiener matriek geslaag het.

Dié oud-leerder van Protea Primêr en Bridgton Senior Sekondêr waar sy tot standerd 9 was in 1985, het tydens haar aanhouding en daaropvolgende ondervraging en marteling standerd 10 deur Sukses Kollege voltooi. Die ligte in die gevangenis is snags afgeskakel, maar Wendy het haar finale eksamen met die hulp van die maanlig voltooi.

Haar aanhouding het ook meer as net fisieke letsels gelaat. Later in haar beroep was Wendy soms die slagoffer van depressie en is sy in gesondheids-klinieke behandel.

Sy het egter aktief betrokke gebly by politieke veldtogte en as ANC-aktivis.
Sy het haar regsgraad in 1992 aan die Universiteit Wes-Kaap voltooi en was tydens haar universiteitsjare lid van die Studenteraad.

Sy is in 1995 as prokureur toegelaat en het ’n kenner geword van arbeidswetgewing en litigasie.

Sy was tydens haar loopbaan onder meer kommissaris by die CCMA asook van ander bedin-gingsrade, en ’n kundige in litigasie en arbeidsreg.

Diegene wat haar geken het, sê sy het ander altyd eerste gestel.

“Sy het niks gedoen vir eer nie,” sê haar suster Debbie de Daar.
Clive Stuurman, eggenoot van die aktivis Carol Moses wat verlede jaar oorlede is, onthou haar heftige debatte en vreeslose aktivisme in die Suid-Kaapstreek wat tot gevolg gehad het dat sy in informele nedersettings moes wegkruip en nie by haar ouers kon woon nie.

Cameron Dugmore, ANC-politikus, noem haar ’n “onbesonge heldin van die stryd wat vanuit Oudtshoorn die saak van die werkersklas en landelike armes met passie verteenwoordig het.”

Seehaam Samaai, direkteur van die Women’s Legal Centre in Kaapstad, het haar bestempel as ’n “fenomenale vrou, reguit, direk, beginselvas, iemand met ’n groot hart wat altyd aan die onderdruktes gedink het en ander se lewens wou beter maak!”

Sy word oorleef deur haar ma Mina Prins (87), drie susters, Debbie de Daar, Sonja Kalan en Phoccia Titus, en vyf broers, Willie, Martin, Whidney, Desmond en Elton Prins. Haar pa, Willem, en ’n broer, Johannes, is reeds oorlede.

3 Comments on "Huldeblyke stroom in vir Wendy Prins"

  1. Given Pieterse | March 9, 2020 at 8:11 am |

    Rus Sag kameraad Wendy. Dankie vir als wat jy as strydvegter moes deurmaak, en vir die bydrae wat jy so onbaatsugtig gemaak het om ons mense te byvry. Ons is not besig en werk hard soos jy weet, maar ons hou moed, totale bevryding is moontlik. Ons is jou ewig dankbaar Dapper Heldin, Vreeslose Vryheidsvegter by uitstek.

  2. Marléna Slaverse | March 6, 2020 at 10:16 pm |

    CORRECTION
    May Wendy’s spirit live on, Aluta Continua!!

  3. Marléna Slaverse | March 6, 2020 at 10:14 pm |

    An absolutely phenomenal woman, known for assertiveness on issues affecting the poor and working class, however very kind, loving and caring person. May Wendy’s live on, Akita continua!!!

Comments are closed.