Taai stryd dié week om die Wes-Kaapse wenner te kies

DIE selfone is uit in die Suid-Kaap waar Oudts­hoorn, George en Swellendam se inwoners én ondersteuners vandeesweek moet stem om te bepaal watter een van dié drie dorpe sal deurdring na die finaal van die Kwêla se Dorp van die Jaar-kompetisie.

Oudtshoorn en die twee ander dorpe is Sondag­aand na die eerste been van die kompetisie aangewys as die drie Wes-Kaapse semi-finaliste.

Die dorp met die meeste stemme van die drie sal deurdring na die finaal en dan teen die wenners van die ander streke in Suid-Afrika meeding om 2020 se Dorp van die Jaar te word.

Jaco Vorster, voorsitter van die Oudtshoorn Besigheidskamer en een van die stukragte agter die Ek is Oudts­hoorn-projek, het inwoners aangemoedig om positief te bly en vir die dorp te stem.

“Kyk net hoe die stemme van inwoners die dorp gehelp het om te kwalifiseer as semi-finalis in die Wes-Kaap!

“Ons moet nou weer met ons stemme wys wat moontlik is. Ons kan dit doen, en kan nie opgee nie. Ons het egter min tyd om dit te doen – net tot Vrydagmiddag om twaalfuur!” het hy gesê.

• Help Oudtshoorn só om George en Swellendam te wen: SMS Oudtshoorn na 33157.

SMS-lyne sluit Vrydag 6 Maart om 12:00 die middag. SMSe kos R1,50 elk. Elke persoon mag 30 SMSe stuur. (Deur Liesel le Roux)