
DIE Oudtshoorn Rotary Aftree-oord, is dalk die oudste aftree-oord in Oudtshoorn, maar wanneer dit kom by tegnologie neem hul beslis die voortou.
Die oord spog nie net met hul hele versorgingseenheid en kantore wat “off-grid” is nie, maar ook 12 huise wat sedert die begin van die jaar ten volle met sonkrag toegerus is.
“Ons versorgings-eenheid en die huise word glad nie meer deur beurtkrag geaffekteer nie,” het Marianne van Greunen, bestuurder van die oord aan Die Hoorn vertel.
Elke eenheid beskik oor sonpanele, ’n omskakelaar (inverter) en litium batterye.
Al is die inwoners almal 70 en ouer, het hulle die werking van hierdie stelsels vinnig aangeleer.
“Hulle is so oulik, dat hulle elke persentasie krag ten volle benut wat deur die son gewek word, en dophou dat die batterye nie leeg raak nie,” verduidelik van Greunen.
Elke stelsel voldoen ten volle aan die wet en is deur Johnny Theron van Glowtron geïnstalleer.
Met Die Hoorn se besoek was Theron juis op die dak doenig van die 13de eenheid wat sonkrag kry.
“Ons is baie beïndruk met Glowtron se werk. Johnny verduidelik so mooi en vat sy tyd om te verseker dat die inwoners die stelsel mooi verstaan,” sê van Greunen.
Solarcon het die versorgings-eenheid en kantoor se installasie gedoen.
Die oord moes ook ’n beleid skryf oor die installasie van sonkrag in enige eenhede, wat deel vorm van die konstitusie.
“Daar is so baie wetgewing wat ter sprake kom, so elke installasie moet nie net volgens die wetgewing wees nie, maar daar moet ook riglyne wees vir die toekomstige verkope van eenhede waar daar sulke installasies is,” verduidelik sy.
Die wet versoek met elke verkoop dat ’n elektriese sertifikaat uitgereik moet word, om te verseker dat die koper en verkoper beskerm word, wat alle sonkrag installasies ook insluit.
Oudtshoorn Rotary Aftree-oord is dalk die oudste oord in Oudtshoorn, maar hulle is voor in die koor as dit by tegnologie kom.