Briewe van lesers: 29 Junie 2023

Sakkies teer

Die burgemeester staan met ’n glimlag en ’n sakkie teer in sy hande en poseer vir ’n foto in die dorpskoerante.

Dit is om vir jou en my te sê, staan op, begin maak jy die verskil. Maak jou straat se slaggate heel. Hou op om die munisipaliteit te blameer.

Na baie jare se baie reën gebeur dit. Dis nie onbeholpenheid van hulle kant nie.

Saam kan daar ’n verskil kom. Maak nie saak dat tariewe styg en daarmee saam ook salarisse nie.

Julle is mos klaar vuisvoos belas, soos skape vir die wolwe gegooi, word ons die burgemeester se prooi.

Wat hy voorstel is belaglik, in die minste.

Sal nou maar my brood prysgee. my kinders se skoolgeld in teer belê, my motor kan lankal nie meer loop, die slaggate het hom hul prooi gemaak. Staan nou maar onder die boom en roes.

Teer het sy diensbaarheid verwoes.
– John Emmerich

Terugvoer vanaf die burgemeester:
Die aanvanklike aanbod om slaggate reg te maak het van lede van die publiek gekom.

Die burgemeester se inisiatief is ’n uitvloeisel daarvan en is daarop gemik om seker te maak dat inwoners wat vrywillig hul deel wil doen, dit op die korrekte wyse doen en ook volgens ’n stelsel dat die munisipaliteit weet watter slaggate word deur inwoners herstel.

Daar is geen verpligting op enigiemand nie.

Hierdie tipe inisiatief vind tans regoor die land in talle munisipaliteite plaas om munisipaliteite by te staan.
Dit is vreemd dat sommige inwoners vol lof is vir sulke inisiatiewe wat op dorpe soos Senekal, Kroonstad en Parys plaasvind, maar dan vol kritiek is as dit op Oudtshoorn gebeur.

Hoe lank nog?

Dit is hartseer en skokkend om te sien hoe ons behoeftige, bejaardes en veral siek mense byna by alle staatsdepartemente in lang toue en selfs in erge gure weersomstandighede moet staan om gehelp te word.

Dit is verskriklik tragies om te sien hoe ons mense in bibberende koue en veral siek en oumense vir ure lank op hulle bene moet staan omdat die staat die mense in die steek gelaat het.

Dit is ’n erge vernedering om hierdie dinge te beleef en uiters wreed veral teenoor die ou, siek–like en honger mense om al hierdie dinge te ervaar.

Die land en veral dié staatsdepartemente het só verval, dit is om van te huil en somtyds raak ’n mens skaam om ’n Suid-Afrikaner genoem te word.

By die plaaslike departement van arbeid vertel ’n vroutjie hoe sy vir baie dae van ’n naby geleë plaas soggens baie vroeg met haar tweejarige kind moes ryloop na hierdie departement. Sy moes vele dae in die middag terug ryloop sonder dat sy enige hulp kon ontvang nadat sy vir dae, ure lank by hierdie instansie moes sit. Die vrou het met trane in haar oë vertel dat sy nie nog so ’n dag kon bekostig nie. By plaaslike daghospitale, daaroor wil ek nie eens praat nie.

Dit is moeilik om te aanvaar dat hierdie instansies ’n bestuur en raadslede het en dit terwyl weerlose mense gure weersomstandighede en somtyds sonder enige beskutting moet trotseer.

Pasiënte is sieklik en klein kinders moet buite in die koue in die hartjie van die winter met hulle nat neusies sit en hoes.

HOE LANK NOG? Dit is kompleet asof hierdie mense by hierdie departemente as “Rommel” beskou word wat hier “gedump” is en met die minste en somtyds met niks tevrede moet wees. Dit is moeilik om te glo dat die staat vir sulke chaos kan begroot.

By plaaslike poskantore en SASSA-kantore gaan dit ook maar nie veel beter nie. Niemand, behalwe by SASSA kom ooit uit om die situasie aan die mense te verduidelik nie.

Hoe kan mense so onprofessioneel en ook so gevoelloos wees? Alles is nou net “loadshedding” se skuld.

Dit is erg onmenslik om mense so te behandel, ’n erge skending van mense se regte. Iemand behoort die staat namens hierdie mense voor die menseregtekommissie te daag. Waar is al die politieke partye, burgerlike en gemeenskaporganisa-sies?

Waar is al die Geestelike leiers, Kerkleiers, Pas-tore, Apostels en sogenaamde Profete as die nood en die oes so groot is? Waar is veral die Raads-lede? Hoekom is hulle blind vir hierdie dinge. Kan niemand dan sien hoe ons dorpe, op veral dae van SASSA-uitbetalings lyk soos Sodem en Gemora nie.

Ek kan nie wag vir volgende jaar se verkiesing nie, want dan begin die lieg-seisoen mos weer en die mense word die wêreld op ’n skinkbord belowe.

Ons staatspresident is op ’n vredesending na Rusland en Ukrane, terwyl sy eie land krepeer van ellende.
HOE LANK NOG? Hoeveel mense het nie al gesterf net omdat sekere elemente so gevoelloos is teenoor hulle medemens? Weet julle dan nie, hy wie hom ontferm oor die arme leen aan God.-Spreke 19:17

– R.B Le Roux

Die Hoorn het die bogenoemde brief aan die departement van gesondheid, Sassa se kantore en departement van arbeid gestuur. Kommentaar is slegs vanaf die departement van gesondheid ontvang.

Terugvoer die departement van gesondheid:
Die meeste van ons klinieke het afdakke, maar dikwels daag mense baie vroeg op om eerste gesien te word vir akute dienste.

Dit kan beteken dat hulle dalk langer as nodig wag. Gesondheidswerkers evalueer die pasiënte se gesondheid om te bepaal wie die siekste is en eerste gehelp moet word.

Ons prioritiseer ook sover moontlik kinders, senior burgers en persone met gestremdhede.
Een van die maniere hoe ons wagtye kan verkort, is deur afsprake te gee vir pasiënte soos die met ’n kroniese toestand, of wond.

Alle klinieke in die Tuinroete-distrik is besig met die infasering van ’n afspraaksisteem.

Dit beteken dat mense ’n datum vir ’n beplande besoek kry, asook ’n tyd.

Ons vra dat hierdie pasiënte slegs 30 minute voor hulle afspraak kliniek toe kom.

Dit beteken dat minder mense op ’n slag in die kliniek behoort te wees, en ’n korter wagtyd sal hê.

Afspraaktye word in 2 uur-tydgleuwe gemaak.

Vra asb. jou gesondheidswerker vir meer inlig-ting. Ons vra dat die publiek saam met ons werk terwyl ons hierdie verandering stelselmatig implimenteer. Indien jy opvolgbesoeke het, maak seker van die datum en tyd, kom dit na, en kom altyd so ver as moontlik alleen.

-Nadia Ferreira, Hoof Kommunikasie Beampte vir die Tuinroete en Sentraal-Karoo-distrikte Wes-Kaapse regering gesondheid